|

Deneysville-tak sit skouer aan die wiel om dorp skoon te maak

Die AfriForum-tak in Deneysville het op 15 Junie in samewerking met ADT en ander lede van die gemeenskap kragte saamgespan om areas in Deneysville skoon te maak.

Die gemeenskap het areas rondom kragpale en substasies in die dorp se gras kort gesny om skade aan kraginfrastruktuur in die brandseisoen te voorkom. Verder is die gras ook gesny om misdaad te voorkom en dit makliker vir die buurtwag-patrolleerder te maak om misdadigers vas te trek wat gewoonlik in die lang grasse skuil. Die tak ook by Ratepayers Bay, wat langs die Vaaldam geleë is, ’n bakkievrag vol rommel weggery om die visvangarea weer netjies te maak vir hengelaars wat langs die dam wil ontspan en visvang.

Volgens Mari Rudman, AfriForum se sekretaresse vir die Deneysville-tak, is die aksie geloods om die veiligheid en netheid in die dorp te bevorder en weer trots onder die gemeenskap te bewerkstellig. “Ons woon in ’n pragtige dorpie hier langs die Vaaldam en sal graag wil sien dat hy skoon en netjies gehou word. Buiten die netheid, is die beskadiging van kraginfrastruktuur ook vir ons ’n groot probleem omdat die gras in die winterseisoen gebrand word en gevolglik skade aan die kragpale en substasies aanrig. Ons het dus die aksie van stapel gestuur om veiligheid te verskerp, infrastruktuur te beskerm en sommer net die dorp weer mooi te maak.”

Rudman het ook bygevoeg dat hierdie aksie een van nog baie is en sy sal graag die gemeenskap wil uitnooi om die projek saam met die tak en ander ondernemings aan te pak. “Ons gaan nog soortgelyke projekte loods om ons dorp skoon en netjies te maak. Ons is trots op die plek waar ons bly en wil graag ’n verskil in ons gemeenskap maak. Ons nooi graag alle gemeenskapslede uit om saam met ons te kom skoonmaak en Deneysville ’n veilige en netjiese plek te maak waarop ons kan trots wees. Ons waardeer ook die donasies wat ons ontvang het uit die gemeenskap om die aksie moontlik te maak en hoop ons kan weer op julle knoppies druk om ons met die projek te ondersteun.”

Inwoners wat betrokke wil raak by die projek kan vir Rudman by 061 523 9980 skakel.

Soortgelyke plasings