|

Nuuskommentaar: Paroolstelsel faal slagoffers wanneer paroolgangers wéér oortree

Daar was vanjaar heelwat sake wat die gebreke in Suid-Afrika se paroolstelsel as ’n mislukte stelsel uitwys. Indien ’n mens na net ’n paar van hierdie sake kyk is dit duidelik dat die paroolstelsel en die kriteria vir parool om toegestaan te word, hersien moet word. Dit gebeur dikwels dat misdadigers wat op parool vrygelaat word, wéér die wet oortree – in baie gevalle is die misdaad wat dan gepleeg word nog erger. Dit ten spyte van die feit dat hulle alvorens hulle op parool vrygelaat word, moet toon dat hulle gerehabiliteer is en nie meer ’n gevaar vir die samelewing inhou nie. Hulle moet ook berou toon vir die misdaad wat gepleeg is.

Regter Papi Mosopa het vroeër vanjaar in sy uitspraak teen plaasaanvallers gesê daar moet na Suid-Afrika se paroolstelstel gekyk word aangesien die drie mans wat voor hom in die hof verskyn het almal op parool vrygelaat was toe hulle ’n bejaarde egpaar op hul hoewe buite Pretoria aangeval het. Al drie het hierdie misdade in minder as ’n jaar ná hulle vrygelaat is gepleeg. Mosopa het die een ook ’n beroepsmisdadiger genoem en gesê dat hierdie net een van ’n rits sake is wat voor hom in die hof is waar die oortreders op parool was en weer misdade gepleeg het. Hy het verder gesê dat hy nie oortuig is dat die aanvallers rehabiliteerbaar is nie.

In ’n onlangse voorval aan die Weskus het ’n man na bewering ’n vrou vermoor en verkrag ná hy enkele weke gelede op parool vrygelaat is nadat hy haar voorheen aangerand het. Nadat die man op parool vrygelaat is, het hy luidens mediaberigte die slagoffer se familie om verskoning gevra en ook aan hulle gesê hy gaan aan hulle ’n geskenk gee wat hulle nie sal vergeet nie. Net ’n dag later is die vrou wreed vermoor en langs ’n treinspoor gelos.

Dan is daar die geval van Frans du Toit en Theuns Kruger wat vanjaar heelwat aandag in die media gekry het nadat hulle op parool vrygelaat is 28 jaar nadat hulle vir Allison Botha verkrag, brutaal aangerand en vir die dood agter gelaat het.

Chris Hansen, die regter in dié saak, het destyds in sy uitspraak bevind dat die mans lewenslank tronk toe moet gaan en aanbeveel dat hulle nie in aanmerking vir parool moet kom nie. Albei dié mans was ook uit op parool toe hulle vir Botha aangeval het nadat hulle ’n swanger vrou verkrag het.

In al drie hierdie sake is dit duidelik dat die paroolstelsel nie optimaal kan bewys of misdadigers wel gerehabiliteer is voordat hulle weer in die samelewing toegelaat word nie. Dit wys ook dat die graad van misdaad wat hierdie misdadigers gepleeg het nadat hulle op parool vrygelaat is vererger het. Die paroolstelsel het hierdie slagoffers en hul families gefaal en daar moet dringend ingegryp word om die samelewing te beskerm teen misdadigers wat reeds bewys het dat hulle nie rehabiliteerbaar is nie.

Soortgelyke plasings