|

Nuwe grondbestuurstelsel vir Barolong Boo Seleka sal ontwikkeling in tradisionele gemeenskappe hupstoot gee

AfriForum en Kgosi Gaboilelwe (Gabo) Moroka van die Barolong Boo Seleka Tradisionele Gemeenskap van Thaba ’Nchu het vandag ’n aanlyn grondbestuurstelsel vir die bestuur van die grond van dié tradisionele gemeenskap aangekondig.

Die stelsel, wat met die hulp van Joulco Square Edms. Bpk. in werking gestel word, is daarop gerig om grondsekerheid vas te stel en te bevestig en grondgebruikers in tradisionele gemeenskappe te bemagtig om besluite rondom grondbenutting en –ontwikkeling te kan neem.

Die stelsel het verskeie voordele soos:

•        Al die eiendomme van die gemeenskap is sigbaar op ’n aanlyn kaart.

•        Eiendomme kan onderverdeel word en gedeeltes kan aan persone of regspersone toegeken word.

•        Die kontrak van elke eiendom of gedeelte word op die stelsel geberg.

•        Die beskikbaarheid van individuele eiendomme of gedeeltes van eiendomme kan maklik vasgestel word.

•        Die stelsel dien as beplanningshulpmiddel omdat dit moontlik is om spesifieke gedeeltes te reserveer vir spesifieke ontwikkelings soos residensieel, landbou ens.

•        Die stelsel gee ’n waarskuwing wanneer ’n bestaande kontrak of benuttingsreg verstryk.

•        Die stelsel is so ontwerp dat grondbestuur gedesentraliseer kan word indien wenslik.

Kgosi Gabo Moroka, kgosi van die Barolong Boo Seleka Tradisionele Gemeenskap, beskou hierdie ontwikkeling en samewerking as “baanbrekerswerk”.

Die voordele van die stelsel moet ook gesien word in die lig van tradisionele gebruike rondom grond waar toestemming om grond te beset (Permission to occupy land/PTO’s) binne die tradisionele gemeenskap ’n proses is waarvoor toestemming en goedkeuring onder meer van die hoofman en gemeenskap verkry moet word. Daarbenewens moet daar ook aan relevante wetgewing van plaaslike owerhede voldoen word.

Moroka het vandag weer verwys na die eeue lange goeie verhoudings en geskiedenis wat daar tussen vorige geslagte van die Barolong Boo Seleka en die Voortrekkers was en meen die voortsetting daarvan is tot voordeel en in die beste belang van toekomstige geslagte van die gemeenskappe se vreedsame voortbestaan.

AfriForum en die Barolong Boo Seleka het die afgelope paar jaar noue samewerkingsbande gesmee. Die burgerregteorganisasie het vroeër tot die hofstryd toegetree in die koninklike familie se stryd om hul regmatige plek as leiers van die gemeenskap te behou nadat ’n dispuut vroeër daaroor ontstaan het. AfriForum en ander vennote het ook ’n gesamentlike landbouprojek in Thaba ’Nchu begin om die gemeenskap te ontwikkel en voedselsekerheid te verbeter.

Moroka sê die ontwikkeling van suksesvolle landbouprojekte is nie moontlik sonder sekerheid oor grond en die goeie bestuur daarvan nie.

“Dié stelsel sal dit vir ons moontlik maak om ons grond te bestuur en ook goeie beplanning te doen. Dit gaan tyd en harde werk verg om die stelsel te implementeer, maar dit gaan ’n sneller vir ontwikkeling wees. Beide die regte van individue en die gemeenskap moet gedien word, en die stelsel gaan dit vir ons moontlik maak. Dit is vir ons ’n voorreg om vir ander tradisionele gemeenskappe ’n voorbeeld van selfbestuur te wees.”

Sy het verduidelik die grondgebied van die Barolong Boo Seleka beslaan sowat 80 000 hektaar.

Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, sê: “Ons is baie opgewonde oor dié loodsprojek en is oortuig daarvan dat baie gemeenskappe voordeel sal trek daaruit indien hulle dit ook in werking stel. Die stelsel is ontwikkel sodat dit gebruik kan word vir die bestuur van ’n paar plase of ’n groot gebied wat uit verskeie eiendomme of gebiede bestaan. Daarom sal die benutting daarvan tot voordeel strek van kleiner grondeienaars soos gemeenskapseiendomsverenigings, kommersiële boere of groot grondeienaars soos die Ingonyama Trust of selfs die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike ontwikkeling. Daar is baie wat kla en selfs hof toe gaan as gevolg van uitdagings met die bestuur van grond wat deur gemeenskappe besit, benut en bestuur moet word, niemand het egter met ’n oplossing vorendag gekom nie.”

AfriForum en Joulco Square bied nou dié oplossing wat die bestuur van gemeenskapsgrond gaan vergemaklik.

Willem Grobler, besturende direkteur van Joulco Square, meen die stelsel is daarop gemik om leemtes tussen titelaktes en die tradisionele gebruike van PTO’s te oorkom en dit vir eienaars of okkupeerders makliker te maak om bewys van grond te lewer en dit te kan bewerk.

“Ons wil nie tradisionele gemeenskappe dwing om dinge op nuwe maniere te doen nie, maar wil hul eerder bystaan om tradisionele grondgebruike te verbeter en te versterk.”

Moroka glo in die selfstandigheid van gemeenskappe en meen hulpmiddels soos hierdie is nodig om byvoorbeeld die afhanklikheidsindroom van mense te verbreek. “Tradisionele leierskap gaan oor grond en ons moet ons mense laat besef dat dit hul identiteit is. Gemeenskappe kan nie sonder ontwikkeling en beplanning vooruitgaan nie.”

Soortgelyke plasings