|

Nuwe Polisieminister maak reg om met sy nuwe besem te vee

Die nuwe man in die polisie se warm stoel – minister Senzo Mchunu – beoog om dinge veel warmer te maak vir misdadigers. Dit is minstens die belofte wat hy die afgelope week gemaak het toe hy die prioriteite van sy nuwe portefeulje uiteengesit het.

As die Mail & Guardian se jaarlikse beoordeling van die prestasies van Suid-Afrikaanse ministers ’n maatstaf is, kan burgers van die land dalk bietjie rustiger slaap met die wete dat Mchunu aan die stuur van sake by die Polisie is. Veral as die powere prestasie van sy voorganger, Bheki Cele, in ag geneem word.

Cele, wat sedert 2019 as minister van Polisie gedien het, het sonder twyfel ’n formidabele flop van sy tyd as Polisieminister gemaak. Die moordsyfer, wat al by meer as 80 per dag trek, is genoegsame bewys daarvan.  

Die onlangse politieke opskuddings in die land het vir verskeie verrassings gesorg en die aanstelling van Mchunu as minister van Polisie is uit verskeie oorde verwelkom.

Mchunu, die voormalige minister van Water en Sanitasie, het (in teenstelling met Cele) hom volgens kenners redelik goed van sy taak gekwyt. Daar kan tog vrae gevra word oor die mislukkings van waterdienste en die randjie van die vrot-water-afgrond waarop talle munisipaliteite speel.

Nietemin, Mchunu is dalk nie die spreekwoordelike ridder op die wit polisieperd nie, maar kenners – en selfs Jan Publiek – is dit eens dat Mchunu ’n aanwins vir die Polisie is.

Hy is al ’n ou hand in die politiek met verskeie belangrike posisies op sy kerfstok. Beeld se redakteur, Barnard Beukman, het Mchunu onlangs bestempel as “een van die meer bekwame kamerade wat by die polisiediens kan ingryp”. Mchunu se skuif weg van Water en Sanitasie word boonop deur verskeie rolspelers geag as ’n “reuseverlies”.

In ’n Rapport-berig van 7 Julie het die joernalis Dawie Boonzaaier ondersoek ingestel na wie die nuwe ministers is wat die nuwe, vreemde gedierte, bekend as die Regering van Nasionale Eenheid (RNE), moet lei. Sy ontleding vir dit wat vir Mchunu voorlê, was in die kol. Sy uitdagings is, volgens Boonzaaier, ’n “polisiemag vrot van faksiegevegte en onbevoegde leierskap” en natuurlik die hemelhoë moordsyfer.

Hy het hierdie week, blykbaar ná uiteenlopende konsultasies, sy prioriteite vir die polisie opgesom. Samewerking met gemeenskappe is een van die sake wat die nuwe minister boonop as kritiek ag – ’n kwessie wat die burgerregteorganisasie AfriForum intussen verwelkom het.

Voorts beloof die minister om misdaadvlakke, die profesionalisering van die polisie, hulpbronne en opleiding vir polisielede, tegnologie, misdaadintelligensie en die onwettige besit van vuurwapens as prioriteit in die polisie te pak.

Daar moet nog baie, baie water in die see loop voor talle van dié ideale verwesenlik sal kan word. Tog is daar dalk hoop as elkeen, soos die ou Vrystaatse president Jan Brand destyds gesê het, net sy deel doen. 

Soortgelyke plasings