|

Erfenis – die sagte teiken

Met ’n nasionale verkiesing op die horison, was dit te verwagte: Die EFF eis alweer dat Paul Kruger se standbeeld van Kerkplein in Pretoria verwyder moet word.

’n EFF-raadslid, Moafrika Mabogwana, het hierdie eis gemotiveer deur te verklaar dat Suid-Afrika na 1994 steeds opgeskeep sit met “monumente en simbole van kolonialisme en apartheid wat nie transformasie en die versoeningsagenda bevorder nie”. Paul Kruger is volgens hom ’n voorbeeld hiervan. Selfs Paul Krugerstraat se naam moet verander, meen hy.

Dat Kruger juis ’n simbool van die stryd téén kolonialisme was en noue bande met baie tradisionele gemeenskappe gehad het, wat ook van hom ’n voorbeeld van versoening maak, verswyg Mabogwana, want vir die EFF om aandag te trek, is kontroversie nodig en min dinge skep meer kontroversie as om Afrikaners se erfenis letterlik of figuurlik aan te val.

Soortgelyk aan hierdie eis is die EFF se dringende mosie in die Ekurhuleni-metroraad wat die proses om W.E. Bok se borsbeeld te verskuif, van stapel gestuur het. Dit is in April 2022 goedgekeur, maar die provinsiale erfenisraad wag dat ’n impakstudie en openbare raadplegingproses plaasvind voordat die proses finaal deurgevoer word. Dat Bok (na wie Boksburg onder meer vernoem is) deur die Franse Republiek en die Portugese regering met ridderskappe vereer is, word nie as bate vir die metro beskou nie. Die eis word eenvoudig gemotiveer deur hom “een van die outeurs van apartheid” te noem, al is hy 44 jaar voor die koms van apartheid oorlede. Feite moet nie inmeng as jy haatgedrewe ideologiese kontroversie wil skep nie.

W.E. Bok

In die buiteland wen die laakbare strategie ook weer veld, soos ons pas gesien het met omgewingsaktiviste wat skilderye van Monet (Duitsland) en Van Gogh (Engeland) met kos toegetakel het.

Kom ons wees eerlik – erfenisbakens is sagte teikens.

Hulle slaan of praat nie terug nie, maar raak ons diepste emosies. Daarom kan opportuniste dit maklik gebruik om aandag te trek en gratis publisiteit te kry.

Dit is ook veel makliker om te eis dat die erfenisbaken van ’n ander gemeenskap verwyder moet word, as om enige nalatenskap te beskerm.

Erfenisbewaring in Suid-Afrika verkeer in ’n gemors, om dit sagkens te stel. Om maar enkele voorbeelde te noem uit die afgelope week se nuus:

  • Sewe mense is al in hegtenis geneem in verband met die wanaanwending van R700 000 wat vir die oprigting van die Winnie Madikizela-Mandela Brandfort-huismuseum geoormerk was.
  • Die gebou waarin die Jan Wessels-museum in Dealesville gehuisves is, is in ’n brand beskadig. Die museum wat in 1985 deur dr. Albert Wessels, die stigter van Toyota SA en broer van Jan geopen is, is jare tevore weens verwaarlosing ontruim.
  • R2,8-miljard word benodig om die parlement wat in Januarie 2022 deur ’n brand beskadig is, te herstel.
  • ’n Borsbeeld van die voormalige Vrystaatse administrateur, Sand du Plessis, is gered nadat dit van die Sand du Plessis-teater gesteel en aan ’n skrootwerf verkoop is.
  • ’n Gedenksteen vir die sanger Bles Bridges naby Bloemhof is gevandaliseer.

Hierdie lys kan aanhou – tik net die soekterme “museum”, “korrupsie” en “brand” in, en nog voorbeelde stroom in. In plaas daarvan om erfenis te beskerm en uit te bou, is die strategie van ideoloë soos die EFF-lede egter om verandering en verwydering te eis van alles wat hulle nie aanstaan nie.

Daarteenoor is daar die goeie nuus van gemeenskappe wat moue oprol om hulle erfenisbakens te red, soos die Vriende van Mostert se Meule wat vandeesweek hulle jaarvergadering gehou het en oor reusevordering kon berig met restourasie aan dié historiese gebou wat in 2021 in ’n brand beskadig is. Net so is daar die NG-gemeente van Burgersdorp wat hulle pragtige ou kerk na ‘n brand in 2020 begin herbou, in volle vertroue op die voorsienigheid van Bo om die benodigde R3-miljoen daarvoor te vind.

Al is erfenis ’n sagte teiken, kán en móét ons dit bewaar en wanneer dit nie voldoende is nie, dit heropbou.

Die proses bind geslagte oor die eeue heen saam, gee aan ons kennis en fondamente waarop ons ons identiteit en toekoms kan bou, smee gemeenskappe hegter saam en skep nuwe hoofstukke in die verhaal van ’n inspirerende verlede.

Soortgelyke plasings