|

‘Een oomblik het jy nog … en in ’n oogwink is als weg’

Deur Alet Rademeyer

Die boere in die Wes-Vrystaat en ook dele van die Noord-Kaap wat gebukkend gaan onder enorme skade en veeverliese ná verwoestende brande die afgelope week gewoed het, sal weer opstaan. Maar daarvoor het hul hulp én genade nodig.

Na raming is sowat 130 000 ha se weiding in die brande verwoes waarvan een glo weens ’n diensleweringsbetoging buite Hertzogville ontstaan het toe betogers buitebande gebrand het. Dié vuur het eenvoudig soos ’n tregter versprei wat deur erge hitte en winde aangejaag is. Die gebiede wat geraak word en waar ander brande ontstaan het, is Dealesville, Hoopstad, Bultfontein, Warrenton en Boshof.

Nie net is kosbare weiding vernietig nie, duisende stuks vee en wild is ook in die brande dood of moes van kant gemaak word.

Sedert die ramp die boere en gemeenskap getref het, het hulp van regoor die land begin instroom.

Daar is die Boks vir ’n Boer-projek waar verskeie versamelpunte geïdentifiseer is waar weldoeners ’n boks met nie-bederfbare kos en ander items kan gaan aflewer. Daar is punte in Bloemfontein, Potchefstroom, Parys, Sasolburg, Orkney, Vryburg, Ventersdorp, Heilbron en vele ander. Kliek hier om te sien watter punt die naaste aan jou is

Die lys word daagliks opgedateer met nuwe punte. Die afsnydatum vir skenkings by AfriForum se hoofkantoor in Centurion is eerskomende Vrydag 30 Oktober om 12:00.

Terwyl die boere ontsettend dankbaar is oor dié hulp, is hul nood egter op ander vlakke groter. Hulle het brandstof nodig vir vuurvegters en vir hulle bakkies waarmee lang afstande tussen dorpe afgelê moet word om brande te blus. Boere moet nou hul infrastruktuur soos lyndrade, omheinings, windpompe, watertenks, waterpype en voerbakke vervang wat ook vernietig is. Die boere moet ook veeartse inkry en medikasie aankoop om te help met behandeling van diere wat oorleef het.

Daarvoor is geldelike hulp nodig in die vorm van donasies.

AfriForum en ander instansies naamlik Agri NW, Vrystaat Landbou, Caring Daisies, Gift of the Givers, SAAI, TLU Noordwes en Boere in Nood het reeds ver oor ’n miljoen rand ingesamel. Elke sent van dié geld sal vir die boere in nood aangewend word deur ’n gekoördineerde proses.

Honderde ton voer is ook reeds gestuur of in die proses om afgelewer te word. Boere is ontsettend dankbaar vir die onmiddellike hulp. Die werklikheid is egter dat die nood nog maande gaan duur aangesien dit ’n tyd sal neem vir die veld om te herstel nadat dit gereën het.

Henk Maree, woordvoerder van AfriForum, sê die skade is onbeskryflik. “Maande se nood lê nog voort. Ons boere gaan ons nog vir lank baie nodig hê. Ons wil vir elke instansie en individu dankie sê wat tot dusver gehelp het om ’n verskil te maak en die nood te help verlig.”

As jy die boere wil help, maak ’n donasie by:

Bank: FNB

Rekeninghouer: AfriForum NPC

Takkode: 261550

Rekeningnommer: 62349898398

SWIFT-kode: FIRNZAJJ

Verwysing: Veldbrand

Soortgelyke plasings