|

Oranje maak skoonskip in sentraalstreeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink-debatskompetisie

Die sentraalstreeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie het Donderdag 24 Augustus vir naelbyt-eindstryde gesorg in die junior en senior afdelings. Dit was die vyfde en laaste streeksuitdun in vanjaar se kompetisie. Die uitdunne en nasionale finaal word deur AfriForum geborg. C&N Sekondêre Meisieskool Oranje was die gasheerskool van hierdie uitdun en het ook skoonskip in die kompetisie gemaak.

In die kategorie vir junior hoërskoolleerders het Die Raakpraters-span se Juliette Schoeman, Marciné Kearney en Mia Lindhout as wenners uit die stryd getree. Die Sterskieters-span se Anabelle Laubscher, Marlene du Plessis en Elri Cloete (ook van Oranje) was die naaswenners.

In die senior kategorie was Karli van Heerden, Dominique du Plessis en Lara Potgieter van Oranje se span #Een(d) die wenners, met Alex Bezuidenhout, Carlise Botha en Marlé van der Merwe van Hoërskool Jim Fouché se span Die JF-raakpraters in die tweede plek.

Vanjaar se kompetisie is besonder goed ondersteun met 10 spanne wat in die junior afdeling deelgeneem het en 18 in die senior afdeling. Die skole wat deelgeneem het, was Bethlehem Voortrekker Hoërskool, Hoërskool Reitz, Hoërskool Witteberg, Eunice High School, Grey Kollege Sekondêr, Hoërskool Jim Fouché, Hoërskool Fichardtpark, Hoërskool Sand du Plessis, Hoërskool Sentraal en natuurlik C&N Sekondêre Meisieskool Oranje. Die spanne het oorspronklike name gekies, byvoorbeeld Gladdebek Gawies, KletsKalante, Trotse Trekkers en Die Aanvallende Anties.

AfriForum is deur Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, en Nicolene Müller, projekkoördineerder van die kompetisie, verteenwoordig. Hulle het namens AfriForum dank teenoor al die deelnemers, asook C&N Sekondêre Meisieskool Oranje oorgedra vir hulle entoesiastiese deelname en Oranje se puik aanbieding en gasvryheid.

“Al die uitdunne deur die dag, asook die finale, is gekenmerk deur enkele punte en soms selfs breukdele van punte wat die spanne skei. Daar was debatte van die hoogste gehalte en ons sien nou net nóg meer na die nasionale finaal uit,” sê Bailey.

“Debat is ’n kernvaardigheid wat leerders deur hulle skoolloopbaan, universiteitstudies en in enige werksomgewing bemagtig. Die Vrystaatse leerders het beslis die kaf van die koring geskei deur hulle sê te sê. Dit is wonderlik om te sien hoe die kompetisie elke jaar groei en dit is vir AfriForum ’n groot eer om te kan help bou aan die toekoms van ons jong Suid-Afrikaners,” voeg Müller by.

Soortgelyke plasings