|

Organisasies en spesialiste aangemoedig om op AfriForum se Waterkrisisportaal te registreer

AfriForum doen ’n beroep op organisasies, ingenieurs, spesialiste en rolspelers betrokke by alle aspekte van waterbestuur om op die burgerregteorganisasie se Waterkrisisportaal te registreer. Hierdie inisiatief het ten doel om AfriForum se bestaande databasis van meer as 600 spesialiste, ingenieurs en maatskappye op te dateer om sodoende ’n omvattende lys van kundigheid en hulpbronne beskikbaar te stel om die dringende wateruitdatings wat Suid-Afrika tans ondervind, te takel.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake, is ’n waterkrisis besig om te dreig en daarom is dit van kritieke belang om alle beskikbare kennis en hulpbronne te mobiliseer sodat volhoubare oplossings gevind kan word. “AfriForum besef die noodsaaklikheid van samewerking en koördinering tussen rolspelers in die aanpak van hierdie kritieke kwessie. Deur op ons portaal te registreer, kan organisasies en spesialiste ’n bydrae maak tot ’n kollektiewe poging om die waterkrisis doeltreffend die hoof te bied,” verduidelik De Klerk.

AfriForum het ’n versoek aan adjunkpresident Paul Mashatile en die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu gerig nadat Mashatile onlangs aangedui het dat die nasionale regering bereid is om AfriForum en ander rolspelers in die burgerlike gemeenskap by die regering se watertaakspan te betrek. AfriForum het egter nog geen kommunikasie ontvang nie.

AfriForum is oortuig dat die takeling van die waterkrisis vinnige en besliste optrede van alle betrokke rolspelers vereis. Versuim om dringend op te tree, sal nie net die agteruitgang van gemeenskappe wat deur die watertekorte en toegang tot skoon water geraak word, uitrek nie, maar ook die omgewings- en sosioëkonomiese impak van die krisis vererger. 

“Ons doen ’n beroep op alle organisasies, ingenieurs, spesialiste en rolspelers betrokke by waterbestuur om op ons Waterkrisisportaal te registreer en toe te tree tot ons pogings om hierdie dreigende probleem te takel,” sê De Klerk. “Saam kan ons ’n betekenisvolle verskil maak en ’n volhoubare toekoms vir water vir alle Suid-Afrikaners verseker.”

AfriForum bly steeds verbind tot samewerking met regeringsamptenare, waterkenners en gemeenskapsverteenwoordigers om oplossings vir die waterkrisis te vind. Die organisasie moedig alle rolspelers aan om samewerking en daadwerklike optrede te prioritiseer om die impak van die krisis op gemeenskappe en die omgewing te beperk.

Registrasies op AfriForum se Waterkrisisportaal is nou oop. Besoek www.waterkrisis.co.za

 vir meer inligting of om op die databasis te registreer.

Soortgelyke plasings