|

AfriForum eis dat NGV-openbare verhore gestaak word tot besonderhede behoorlik gekommunikeer word

Die burgerregteorganisasie AfriForum eis in ’n regsbrief dat die Gautengse Wetgewer se Portefeuljekomitee oor Gesondheid en Welstand, onmiddellik die openbare verhore oor die wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) staak. Dit volg ná dit onder dié organisasie se aandag gekom het dat openbare verhore plaasvind sonder dat die tye of datums daarvan voldoende geadverteer is.

AfriForum het ’n mondelinge voorlegging voorberei en gewag dat daar kennis gegee word van besonderhede rakende openbare verhore. Hoewel daar geen kennis gegee is op die webblad van die Gautengse Wetgewer of in die media nie, het twee openbare verhore in dié provinsie reeds plaasgevind met slegs ’n Facebook-plasing wat die publiek daarvan in kennis gestel het. Daar is ook slegs drie openbare verhore in Gauteng geskeduleer, terwyl daar sewe openbare verhore in die Wes-Kaap plaasvind.

Volgens AfriForum is dit onaanvaarbaar dat die Gautengse Wetgewer nie behoorlike geleentheid aan die inwoners van dié provinsie gee om hul insette op só ’n gevaarlike wetsontwerp te lewer nie en daarom eis dié organisasie dat die huidige openbare verhore gestaak word, sodat dit herskeduleer en behoorlik geadverteer kan word.

“Dit is duidelik dat die owerhede nie belangstel daarin om ingeligte standpunte van die publiek te hoor of in ag te neem nie, maar dat hulle eenvoudig ’n wetsontwerp gekies het op ideologiese gronde en nou vasberade is om dit deur te druk sonder behoorlike openbare deelname,” sê Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder oor NGV. “Hierdie nalatigheid van die ANC-regering ontbloot beide hul blatante vooroordeel, sowel as hul onvermoë om basiese administratiewe pligte na te kom.”

AfriForum moedig intussen lede van die publiek aan om geskrewe kommentaar teen die NGV aan die provinsiale owerhede te stuur by www.jougesondheid.co.za.

Soortgelyke plasings