|

Plaasaanvalle en -moorde vir eerste kwartaal minder, maar steeds wreed volgens AfriForum-verslag

AfriForum se plaasmoordverslag vir die eerste kwartaal van 2023 is pas bekendgestel. Alhoewel die aantal plaasaanvalle en -moorde effens afgeneem het in vergelyking met dieselfde periode in 2022, het die wreedaardigheid van hierdie aanvalle glad nie afgeneem nie.

In een geval is ’n 69-jarige man langs sy vrou aangeval en doodgesteek net meters weg van waar sy dogter 11 jaar vantevore op dieselfde kleinhoewe vermoor is. In twee ander aanvalle is slagoffers doodgesteek en nog een is doodgewurg ná sy vrou vasgebind is. In die laasgenoemde aanval het die aanvallers ’n voertuig gebuit.

Die tendens is egter dat slagoffers van plaasmoorde deur die aanvallers geskiet word. Meer as die helfte van die slagoffers wat aangeval is, is ouer as 60.

28% van die aanvalle het in Gauteng plaasgevind. Alhoewel die tweede meeste gevalle in Noordwes plaasgevind het, is dit steeds bykans die helfte minder as die aanvalle in Gauteng. Die Noord-Kaap is die provinsie waar die minste plaasaanvalle (vier aanvalle) in die eerste kwartaal van 2023 plaasgevind het.

Daar was verlede jaar van Januarie tot Maart landwyd 80 aanvalle en 11 moorde en in 2023 het hierdie syfers afgeneem tot 77 en nege. Johan Nortjé, navorser by AfriForum, verduidelik egter dat hierdie syfers nie noodwendig 100% akkuraat is nie.

“AfriForum het in 2019 ’n stelsel in plek gestel om geweldsmisdaad op plase te moniteer. Alhoewel die regering amptelike misdaadstatistieke publiseer, het hulle soms in die verlede plaasaanvalle en -moorde uitgesluit. Daar is ook ’n kans op ’n sogenoemde donkersyfer omdat nie alle aanvalle by die SAPD aangemeld word nie,” sê Nortjé.

Johan Nortjé, navorser by AfriForum

AfriForum samel data op verskillende plekke in wat ’n uitgebreide veiligheidsnetwerk en mediabronne insluit. Die SAPD het byvoorbeeld in 2019 in die eerste kwartaal slegs 64 aanvalle in hul statistieke ingesluit terwyl AfriForum 125 aanvalle geverifieer het. In 2020 was die aanvalsyfer 66 by die SAPD teenoor 79 by AfriForum, maar in 2021 het die SAPD 130 aanvalle ingesluit en AfriForum net 92. Die rede vir die verskillende syfers is op hierdie stadium nog onduidelik.

Aanvalle vind meestal tussen middernag en 02:59 plaas en amper ’n derde van aanvalle vind in hierdie tydgleuf plaas. Ander tye van die dag wanneer baie aanvalle aangemeld word, is van 18:00 tot 23:59.

Die aanvallers is gewoonlik in groepe van twee of meer met soveel as 20 wat in ’n spesifieke geval waar vee gebuit is, toegeslaan het.

Items wat dikwels tydens aanvalle gesteel word sluit vuurwapens, voertuie en elektroniese toestelle in. Daar was egter in 11 van die aangemelde gevalle niks by die slagoffers gesteel nie. ’n Syfer wat verder skok is dat verdagtes net in nege van die 77 aanvalle aangekeer is en slegs twee verdagtes is aangekeer in die gevalle waar ’n moord gepleeg is.

“Wat ’n mens uit die verslag kan aflei, is dat die meeste aanvallers gewapen is en slagoffers aanrand of vermoor. Met die dat die SAPD so min verdagtes aankeer, sal die meeste aanvallers ook met hul misdade voortgaan. AfriForum sal voortgaan om sy veiligheidsnetwerke uit te brei. Boere en ander plaasbewoners sal ook verder opgelei en van raad voorsien word om plaasaanvalle te probeer afweer,” sê Jacques Broodryk, woordvoerder vir gemeenskapsveilgiheid by AfriForum.

Jacques Broodryk, woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum

Lees die verslag hier.

Soortgelyke plasings