|

Potchefstroom-tak stomgeslaan oor vullisterreinoudit

Die AfriForum-tak in Potchefstroom was aangenaam verras oor die reuseverbetering by die plaaslike vullisterrein tydens ’n vullisterreinoudit op 10 Maart.

AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit word tans uitgevoer en luidens die jongste syfers in die verslag, het die vullisterrein in Potchefstroom in 2022 op 82% geëindig. Dit is ’n drastiese toename in vergelyking met die vorige twee jare se syfers van 15% in 2020 en 48% in 2021.

Hierdie verbetering word toegeskryf aan die nuwe kontrakteur wat die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit amptelik in Desember 2021 aangestel het, nadat hy ’n paar keer uitgehelp het. Die vorige kontrakteur was bykans nooit op die vullisterrein om die werk te verrig nie. Daar word tans gebruik gemaak van ’n plaaslike kontrakteur, wat ’n daadwerklike verskil in die dorp wil maak. Die punte wat die terrein behaal het, is ’n getuigskrif vir die maatskappy.

“Hierdie is net nog ’n voorbeeld vir die regering dat die antwoord vir beter munisipale dienste lê by die gemeenskap wat hand kan bysit om die werk te doen. Die kontrakteurs wat deur munsipaliteite aangestel word, is oor die algemeen onbevoeg om die werk te verrig, aangesien die munisipaliteit meer bekommerd is om te voldoen aan politieke voorskrifte as om hul verantwoordelikhede teenoor gemeenskappe na te kom,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

“Dit was ’n belewenis om hierdie oudit te doen. In ’n woestyn van wanbestuurde vullisterreine in die Mooirivier, was hierdie vullisterrein ’n ware oase. Ons is dankbaar dat die plaaslike munisipaliteit die lig gesien het en ’n bevoegde kontrakteur aangestel het. Dit was lekker om met die persoon in beheer by vullisterrein te gesels en te beleef hoe toegewyd hy aan sy werk is. Al die werkers op die terrein is trots op hul werk,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Raak vandag nog by Potchefstroom se AfriForum-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Kontak vir Leanie van Ronge by 066 423 9239 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings