|

KLAGTES TEEN FORMULEMELK-PA LAAT VAAR NADAT AFRIFORUM SE PRIVAATVERVOLGINGSEENHEID INGRYP

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier het om klagtes teen Naas le Roux in te stel. Le Roux is op 7 Januarie in hegtenis geneem vir die verbreking van die aandklokreël omdat hy weens ’n noodgeval formulemelk vir sy pasgebore baba moes gaan koop. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak gehad en het verlede week vertoë aan die aanklaer gerig oor waarom Le Roux nie vervolg moet word nie. AfriForum het ook aangekondig dat dié eenheid druk gaan toepas op, maar ook ondersteuning sal bied aan die SAPD-ondersoekspan wat getaak is met die interne ondersoek na verskeie polisielede se beweerde wangedrag in dié voorval.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verwelkom die organisasie die NVG se besluit om die klagtes teen Le Roux terug te trek. “Dit blyk egter toenemend dat sekere wetstoepassers die inperkingsregulasies misbruik om gewone, wetsgehoorsame mense af te knou eerder as om hulle op die bekamping van ernstige misdaad toe te spits. Hierdie was duidelik ’n noodgeval en die polisiebeamptes se gebrek aan insig en empatie om die regulasies op ’n redelike wyse af te dwing, is werklik skokkend. Ons kan nie toelaat dat die polisie wetsgehoorsame burgers soos misdadigers behandel nie. Daarom sal ons by die saak betrokke bly om toe te sien dat daadwerklike stappe teen die betrokke polisiebeamptes gedoen word.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het tydens die konferensie gesê dat die optrede van die polisie in hierdie geval tekenend is van ’n gebrek aan opleiding, asook ’n versuim om te verstaan wat die doel van die inperkingsregulasies is. “Die doel van die regulasies is nie – soos polisieminister Bheki Cele trots aankondig, om meer as 7 000 mense met kriminele rekords te belas omdat hulle nie maskers dra nie – maar om die las op hospitale te verlig deur te verhoed dat die virus versprei.”

Daar is tydens die konferensie vertel dat mnr. Le Roux op 7 Januarie 2021 in hegtenis geneem is omdat hy die aandklokreël verbreek het om formulemelk vir sy pasgebore, honger baba by die Clicks-apteek in Unitas-hospitaal te gaan koop. Die baba is op 6 Januarie 2021 gebore, en Le Roux se vrou, Natasha, en die baba is op 7 Januarie uit die hospitaal ontslaan. Hoewel mev. Le Roux borsvoed, was daar later dié dag probleme met die baba se voeding en mnr. Le Roux moes Vrydagoggend omstreeks 01:00 na die noodapteek by die hospitaal ry om ’n blik melk te gaan koop. Toe hy terugkeer, het twee SAPD-konstabels hom ongeveer 250 m van sy huis afgetrek. Hulle het geweier om na rede te luister of te begryp dat Le Roux die aandklokreël weens ’n noodgeval moes verbreek – ten spyte van die feit dat hy vir hulle die strokie en die blik melk kon wys.

Die polisiebeamptes – wat geen sigbare eieningskaarte of kentekens vertoon het nie – was volgens mnr. Le Roux baie aggressief en het hom verskeie kere beledig en mondelings geïntimideer. Dit het geëskaleer totdat een van die beamptes na bewering gesê dat hulle op daardie aand vir Le Roux in hegtenis gaan neem en hom ’n les gaan leer.

Een van die beamptes het ook Le Roux se motorsleutels uit sy kar gepluk en pogings aangewend om hom te verhoed om opnames van die gesprek te maak.

Hulle het hom egter toegelaat om sy vrou te bel, wat die sowat 250 m te voet en met haar pasgebore baba – wat lusteloos was van die honger – na die kar moes gaan om die formulemelk te kry. Sy het by die polisiebeamptes gepleit om haar man te laat gaan, maar hulle het bloot geweier. Hierna het een van die polisiebeamptes vir mev. Le Roux gevra of sy kan bestuur. Sy moes toe met die pasgebore baba op haar skoot huis toe ry terwyl die beamptes haar man in hegtenis neem en in die vangwa laai. Die beamptes het vir haar gesê dat sy agter hulle tot by die polisiekantoor kan aanry en mnr. Le Roux se borg daar kan betaal.

Mev. Le Roux het toe by die polisiestasie aangekom nadat sy hul babadogtertjie huis toe geneem en gevoed het. Die adjudant-offisier het haar egter gewaarsku om dadelik huis toe te ry, anders sou hy haar ook moes arresteer. Sy is toe huis toe en het regshulp vir mnr. Le Roux by Lily Rautenbach bekom, wat daarin kon slaag om sy vrylating die volgende oggend te bewerkstellig.

Rautenbach het haar ondervinding goed aangewend en kon daarin slaag om Le Roux op ’n waarskuwing te laat vrylaat. Sy sal die verdere siviele eis teen die polisie hanteer.

  • Klik hier vir beeldmateriaal oor die voorval.

Soortgelyke plasings