|

Queensburgh-gemeenskap knap sypaadjie tree vir tree op

Onkruid, rommel en oorgroeide gras wat die sypaadjie op Mainweg in Malvern, Queensburgh, ontsier het, het die afgelope naweek sleg tweede gekom toe AfriForum se Durban-Wes-tak ’n kilometer lange strook sypaadjie hier opgeknap het. Dié projek is in samewerking met gemeenskapslede van Queensburgh Tidy Towns aangepak.

Die eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit se instandhouding van sypaadjies en ander oop terreine in dié munisipaliteit laat veel te wense oor, en daarom het die Durban-Wes-tak saam met Tidy Towns Saterdag tree vir tree te werk gegaan om dié strook op Mainweg op te ruim.

“Die Durban-Wes-takbestuur en Queensburgh Tidy Towns het besluit om met hierdie projek ’n daadwerklike verskil aan die netheid van dié buurt te maak. Ons het tydens hierdie skoonmaakprojek gras gesny en die onkruid wat in die sypaadjie se sementnate groei, met onkruiddoder bespuit,” verduidelik André Johnson, takvoorsitter van AfriForum se Durban-Wes-tak.

Volgens Johnson beoog dié tak om vanjaar nog verskeie skoonmaak- en grassnyprojekte in die Durban-Wes-omgewing aan te pak as deel van die tak se volhoubare projekte.

“AfriForum merk daagliks op hoe dienslewering agteruit gaan en dat gemeenskappe self moet inspring om dienste, soos die opknapping van parke, sypaadjies en ander openbare ruimtes, te takel. Ten spyte daarvan dat dit eintlik die verantwoordelikheid van die plaaslike owerhede is, neem meer en meer gemeenskappe nou die voortou hiermee,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder van KwaZulu-Natal.

Van Aswegen benadruk dat opruimingsaksies soos dié verskeie voordele vir ’n gemeenskap inhou. “Gemeenskappe wat self moue oprol om hul buurt te verbeter, ontwikkel ’n waardevolle gevoel van gemeenskapstrots. Dit bied ook geleentheid vir individue om betrokke te raak en te voel dat hulle self ook ’n verskil kan maak en vestig betekenisvolle verhoudings tussen gemeenskapslede,” verduidelik hy. “Daarbenewens bevorder aksies soos dié, ’n uiters waardevolle selfdoenkultuur onder gemeenskappe.”

Raak vandag nog deel van AfriForum se Durban-Wes-tak en die projekte wat dié tak aanpak. Kontak André Johnson, takvoorsitter, by 084 688 6264.

Soortgelyke plasings