Groot opwinding verwag in nuwe Vetkoekpaleis-reeks

AfriForumTV is opgewonde om aan te kondig dat hulle binnekort met die vervaardiging van ’n splinternuwe Vetkoekpaleis-reeks begin. Vetkoekpaleis 2 word met behulp van AfriForum vervaardig vir AfriForumTV se digitale platform en sal teen Desember 2023 op dié platform te sien wees. Dié reeks word van 28 September tot 28 Oktober in die AfriForum Teater verfilm.

Die AfriForum Teater word vir die verfilming omskep in die legendariese Vetkoekpaleis-restaurant en die publiek kan kaartjies koop om deel te wees van die gehoor. Daar word 10 episodes in die teater opgeneem met ou en nuwe karakters soos Wynand van Vollenstee, Lizz Meiring en Willie Esterhuizen, wat self weer te sien is as Worsie. Dit is ’n splinternuwe, skreeusnaakse storielyn soos net Pieter en Willie Esterhuizen van Orkney snork nie en Vetkoekpaleis faam kan doen.

“Dit is ’n eer om weer episodes van Vetkoekpaleis te kan opneem voor ’n gehoor. Dié soort opnames word deesdae glad nie meer gedoen nie. Om die opnames voor ’n gehoor te kan doen is ‘magic’, want dit verander die atmosfeer en maak dit heeltemal anders as in ’n leë ateljee. Ons kan nie wag nie,” sê Willie Esterhuizen, akteur en regisseur van Vetkoekpaleis.

“Ons sien baie uit om saam met hierdie legendes te werk aan ’n groot produksie en dit beskikbaar te maak vir almal wat lief is vir ons taal, Afrikaans,” sê Shinelle Brewis, koördineerder van AfriForumTV.

“Dit is vir ons baie opwindend om deel te wees van hierdie projek en om nuwe lewe in hierdie tipe komediereekse te blaas. Dit gaan prettig wees en humor verskaf wat die hele gesin gaan geniet,” sê Carien Bloem, teaterbestuurder van AfriForum Teater.

Kaartjies is reeds te koop by www.afriforumteater.co.za, daar is ’n beperkte hoeveelheid kaartjies beskikbaar. Registreer gratis op AfriForumTV om Vetkoekpaleis 2 en ander programme te kyk by www.afriforumtv.co.za.

Soortgelyke plasings