AfriForum Sakenetwerk se Tinteltong Toekennings vir 2024 is hier!

AfriForum beloon oudergewoonte innoverende Afrikaanse ondernemings met Tinteltong Toekennings in samehang met Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie.

Wat in 2016 begin het met ’n pakkie in die pos aan vier innoverende ondernemings wat die AfriForum Sakenetwerk-span beïndruk het, het sedertdien gegroei tot ’n jaarlikse geleentheid waarna Afrikaanse ondernemings uitsien.

Toe dié toekennings in 2016 begin het, het AfriForum bevind dat 30% van die Suid-Afrikaanse mark Afrikaans is. Daarom doen dié organisasie moeite om ondernemings te beloon wat dienste in Afrikaans lewer. Die doel van hierdie toekennings is om ondernemings te beloon, maar ook om ander ondernemings te motiveer om besigheid in hul hartstaal te doen.

2024 se Tinteltong Toekennings trek ’n nuwe baadjie aan. Vanjaar se toekennings vind in streke plaas om sodoende die Tinteltong Toekennings se voetspoor uit te brei en by meer ondernemings uit te kom. “Ons wil graag in 2024 die meeste toekennings moontlik in een jaar uitdeel,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

Die datums en streke is as volg:

16 Februarie – Potchefstroom, Noordwes

21 Februarie – Pretoria, Gauteng

22 Februarie – Grootbrak, Suid-Kaap

27 Februarie – Kimberley, Noord-Kaap en Vrystaat

29 Februarie – Blouberg of Durbanville, Wes-Kaap

“Ons wil ondernemings en entrepreneurs in hulle gemeenskap bekroon, daar waar hulle die hart van die gemeenskap is – die mense wat die ekonomie op eie bodem aan die gang hou. Mense wat dit doen sonder om erkenning te verwag, mense wat ’n hart vir die gemeenskap het en elke dag hulle beste gee om ander se lewe ook te verbeter deur die werk wat hulle op mikro-ekonomiese vlak skep. Ons sien hulle raak en hulle gemeenskap sien hulle raak,” sê Van der Walt voorts. 

Van der Walt noem verder dat hierdie jaar ook anders is, omdat daar sommige ondernemings is wie se eienaars ook direk sal deurdring na die semi-finaal van die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie.  

Hier is die ondernemings wat vanjaar benoem is vir ’n Tinteltong Toekenning: https://www.afriforumsakenetwerk.co.za/tinteltong-toekennings/ 

Soortgelyke plasings