|

ROLSPELERS VAT HANDE OM SUKSES VAN GESAMENTLIKE LANDBOU-ONTWIKKELINGSPROJEK TE MAAK

AfriForum, Pioneer, Saai, Agri All Africa (AaA), Purposely Ignited, Boschveld Free Range Chickens, Agrico en Laeveld Agrochem het met die Boiphitlhelelo Koöperatief hande gevat om ’n gesamentlike landbouontwikkelingsprojek by die Noga’s Post-nedersetting van Thaba ’Nchu naby Bloemfontein aan te pak. Dié rolspelers het besluit om die Noga’s Post-gemeenskap met dié ontwikkelingsprojek te ondersteun nadat die gemeenskap suksesvol mielies en ander groente tydens die vorige plantseisoen geproduseer het.

Die Boiphitlhelelo Koöperatief is in 2017 gevorm om voordeel te trek uit die een-huishouding-een-hektaar-program van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling. Altesaam 36 gesinne het oorspronklik by die koöperatief aangesluit en onder leiding van Kgosatsana (Prinses) Gabo Moroka, tradisionele leier van Noga’s Post, daarin geslaag om afgesien van die 36 hektaar wat deur die regering aangeplant is, ’n verdere 20 hektaar mielies en groente op eie inisiatief aan te plant tydens die 2019/2020-plantseisoen. Verskeie gemeenskapslede het ook kos in hul eie tuine geproduseer. Die groente en mielies wat só geproduseer is, het verseker dat die Noga’s Post-gemeenskap tydens die moeilike maande van inperking kos gehad het om te eet.

“Ons het baie hard saamgewerk om die gemeenskapslede van Noga’s Post se ingesteldheid aan te pas om weer hoop te hê en te werk om voedselsekerheid en ’n beter toekoms te verseker. Ek is baie trots op die prestasie van die gemeenskap en is dankbaar dat ander rolspelers besluit het om betrokke te raak om van ons projek ’n nog groter sukses te maak. Hierdie inisiatief is ’n voorbeeld van wat ons bedoel met vreedsame naasbestaan en samewerking. Ek beskou dié samewerking as ’n voortsetting van die goeie verhoudinge wat ontstaan het in die tyd van my voorvader Kgosi Moroka II in 1836,” sê Kgosatsana Gabo Moroka, woordvoerder van die Boiphitlhelelo Koöperatief en tradisionele leier van die gemeenskap.

“Dit is baie inspirerend om saam met die gemeenskap te werk. Hulle is só passievol oor die projek en het groot drome vir die toekoms. Dit is vir Pioneer ’n voorreg om by dié projek betrokke te wees en deur, onder meer, die skenking van die beste gehalte saad by te dra om van die projek ’n nog groter sukses te maak,” sê Charles Matlou, kleinboerontwikkelingsbestuurder by Pioneer Hi-Bred RSA.

“As ’n familieboernetwerk is dit vir Saai belangrik dat mense wat graag kommersiële boere wil wees, ondersteun word om te ontwikkel tot volwaardige landbouers wat nie net in staat is om vir hulself welvaart te skep nie, maar om ook by te dra tot voedselsekerheid in die land. Hier is families wat graag wil boer en daarom is ons, saam met ons implementeringsvennoot Agri All Africa, hier betrokke,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Agri All Africa koördineer die kommersiële boere van die omgewing wat by die projek betrokke is. Dié boere tree as mentors vir die gemeenskapslede op en help ook met die verskaffing en aanwending van toerusting.

“Dit is vir AfriForum ’n groot vreugde om by die gemeenskapsprojek betrokke te wees. Hulle het bewys dat hulle graag selfstandig wil wees en dat hulle bereid is om te werk om ’n beter toekoms vir hul kinders moontlik te maak. ’n Toekoms waarin ons vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan lê in wedersydse erkenning en respek en samewerking tussen verskillende kulturele gemeenskappe en rolspelers, waarvan dié projek ’n uitstekende voorbeeld is,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking by AfriForum.

Gerda Kotzé van Purposely Ignited verleen bystand met die koördinering van die verskillende rolspelers, terwyl Mike Bosch van Boschveld Free Range Chickens ook hoenders aan die koöperatief geskenk het. Laeveld Agrochem het saadpakke geskenk vir die aanplant van groentetuine in die gemeenskapslede se erwe en steun ook die groter landbouprojek met ander middele. Die plaaslike Agrico-tak in Bloemfontein dra tot die projek by deur die ontwerp van die waterverspreiding- en besproeiingstelsel met die doel om die optimale besproeiing vir elke gewas en area te spesifiseer en sodoende opbrengs en wins te maksimaliseer.

Soortgelyke plasings