Water
|

Raskwotas: AfriForum dien kommentaar teen voorgestelde raskwotas vir watergebruik in

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag omvattende kommentaar op die omstrede konsepregulasies oor watergebruiklisensies, wat op 19 Mei 2023 vir openbare deelname in die Staatskoerant gepubliseer is, ingedien. Die vernaamste verandering wat hierdie beoogde wysigings aan waterwetgewing in die vooruitsig stel, is die vereiste dat ’n aansoeker vir ’n watergebruikslisensie tot soveel as 75% swart eienaarskap sal benodig.

AfriForum se grootste bekommernis is verskeie bepalings wat dui op Senzo Mchunu, die minister van Water en Sanitasie, se voorneme om regulasies uit te vaardig wat teenstrydig met die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) en die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Wet 3 van 2000) is. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die poging om vereistes wat deur die Nasionale Waterwet vir waterlisensieaansoeke gestel word te omseil en onregmatige vereistes ten opsigte van raskwotas in te voer.

Hoewel sekere elemente van die hersiene konsepregulasies nodig en prysenswaardig is, soos die doelwit om die waterlisensieaansoekproses te bespoedig, bevat dit egter ’n magdom foute, teenstrydighede en onregmatige bepalings. Dit wissel van eenvoudige spelfoute en foutiewe kruisverwysings, wat ten beste sekere bepalings betekenisloos of verwarrend maak, tot onredelike vereistes soos streng spertye waaraan aansoekers moet voldoen, terwyl stelselstilstand (system downtime) die Departement van Water en Sanitasie toelaat om van spertye af te wyk.

AfriForum het vroeër reeds ’n versoek aan die minister gerig om die hersiene konsepregulasies terug te trek, maar dit het egter op dooie ore geval. Met die indiening van kommentaar vervul AfriForum steeds ’n noodsaaklike rol in die wetgewende proses, omdat elke tekortkoming van die konsepregulasies in detail uitgewys en op rekord geplaas word, wat die minister nou in ag moet neem voordat ’n hersiene weergawe daarvan weer bekend gemaak kan word.

“Die hoop bly steeds dat die konsepregulasies in geheel geskrap word en dat die minister op ’n skoon bladsy sal begin, juis omdat die huidige konsepregulasies deurspek is van probleme,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

Indien die minister en sy departement sou voortgaan met die omstrede regulasies sal AfriForum verdere remedies tot sy beskikking oorweeg.

Soortgelyke plasings