|

AfriForum-lede red man se lewe ná mesaanval

AfriForum se buurtwagte het die afgelope naweek aan die organisasie se nasionale patrollie deelgeneem om sigbaarheid te verhoog en hulp te bied by noodgevalle. In Bloemfontein het een van die Uitsig-buurtwaglede ’n man op die hoek van Napoleon- en Barry Richterstraat in Fleurdal opgemerk terwyl hy gepatrolleer het. Die lid het stadiger begin ry en toe gesien dat die man ’n steekwond op sy kop het. Hy het die ander patrolleerders na die toneel ontbied. Hulle het ook dringende mediese hulp na die toneel ontbied omdat die wond erg gebloei het.

Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, was op daardie stadium in Wilgenhof, ’n woonbuurt in die Rosestad, en het hom ook na die toneel gehaas.

Groenewald, wat ook ’n paramedikus is, het dadelik sy mediese toerusting uitgehaal en die bloeding probeer stop. “Net toe die bloeding onder beheer was, het die man sy bewussyn verloor en ek kon nie meer sy polsslag voel nie. Roan Taljaard, leier van die Uitsig-buurtwag, het my gehelp en ons het dadelik kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toegepas. VR Med-ambulansdienste, met wie AfriForum in Bloemfontein ’n vennootskap het, is gekontak omdat ons reeds lank vir die staatsambulans gewag het.”

Terwyl hulle besig was om die KPR toe te pas, het die man weer bygekom. Hy is op sy sy gedraai en met ’n ruimtekombers bedek totdat die ambulans opgedaag het. VR Med het die man verder behandel en hy kon in die ambulans ’n bietjie met die paramedici praat, maar hy was nog baie swak. Hy is na die Pelonomi-hospitaal se traumaeenheid geneem vir verdere behandeling.

“Die belangrikheid van opleiding en die regte toerusting op so toneel is van kardinale belang. Danksy die vinnige optrede en reaksie van die buurtwaglede en VR Med kon die man dadelik die nodige behandeling ontvang. As dit nie was dat die buurtwaglid die man tydens die patrollie opgemerk het nie, sou hy gesterf het,” sê Groenewald.

Soortgelyke plasings