| |

Reeks brandstigtings tref Wes-Moot: AfriForum-tak blus drie brande binne enkele ure

AfriForum se Wes-Moot-brandspan het Donderdag (4 Julie) binne enkele ure drie brande, wat na bewering met opset gestig is, in die Claremont- en Suiderberg-buurte geblus. 

AfriForum se Wes-Moot-takbeheerkamer het omstreeks 15:45 ’n noodoproep rakende ’n veldbrand tussen huise in Claremont ontvang. Die Wes-Moot-brandspan het na die toneel gehaas en die brand vinnig onder beheer gebring en geblus. Op hul pad terug na die beheersentrum is ’n tweede veldbrand in Suiderberg opgemerk en met die span se aankoms op die toneel is bevind dat die vuur reeds tot teenaan die aangrensende eiendomme se grensmure versprei het. Vinnige ingrype was derhalwe van kritieke belang en die brandspan kon daarin slaag om ook dié brand spoedig te blus.

’n Derde veldbrand het skaars twee blokke daarvandaan ontstaan wat die reeds uitgeputte span ook suksesvol kon blus.

Volgens Johan Liebenberg, inligtingspanleier van AfriForum se Wes-Moot-buurtwag, dui alles tans daarop dat hierdie brande met opset gestig is. “Dié tendens is uiters kommerwekkend en hoewel ons brandspan dié brande gou onder beheer kon bring en kon toesien dat niemand beseer is nie en geen eiendom skade ly nie, het die voorkoms van sterk winde ’n bykomende risiko vir die span meegebring,” verduidelik Liebenberg.

Hy het die brandstigters se optrede veroordeel en hul begrip vir die gevaar wat hierdie brande vir mens en dier inhou, bevraagteken. “Selfs die voëls wat in die veld tussen die riete nesmaak, moes vlug voor die vlamme,” gaan Liebenberg voort. Liebenberg benadruk dat inwoners, deur die onwettige storting van vullis in oop velde, ook dikwels die risiko van die verspreiding van brande verhoog. Die opruiming van groenstroke is daarom noodsaaklik, voeg hy by.

Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord-streek, meen dat gemeenskappe self verantwoordelikheid moet neem. “Die gemeenskap se betrokkenheid het egter deur die Wes-Moot-tak se werk getoon dat selfdoen en saamwerk moontlik én noodsaaklik is,” sê hy.

AfriForum se Wes-Moot-tak fokus onder meer op die doeltreffende en volgehoue opleiding van sy brandspanlede en sien ook toe dat vrywilligers die nodige toerusting het om situasies soos dié drie brande veilig en suksesvol te hanteer.

Raak vandag nog by AfriForum se Wes-Moot-tak betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings