|

16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders blote lippediens vir regering

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag weereens in die Brits-streekhof beleef dat die regering se sogenaamde toewyding tot die geveg teen geweld teen vroue en kinders blote lippediens is. Dit volg nadat ’n saak van kindermolestering van ’n dogtertjie (nou 10), wat reeds vier jaar gelede aangemeld is en steeds nie op verhoor gegaan het nie, weereens uitgestel is – hierdie keer tot 29 Mei 2023. Die ontoereikende rede wat deur die staatsaanklaer aangevoer word vir dié verdere uitstel, is dat die staat eers alle verhore wat gedeeltelik aangehoor is, wil afhandel voordat die twee ouers wat hul kind na bewering gemolesteer en verwaarloos het, verhoor kan word.

In hierdie saak het een van die beskuldigdes na bewering sy vyfjarige stiefdogter verkrag en seksueel aangerand. Hy het haar ook na bewering met ’n belt aangerand en haar mond tydens die aanvalle toegedruk as sy huil. Die kind se ma was volgens bewyse bewus van die beweerde verkragting en het aand na aand gehoor hoe haar dogter huil.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in Julie 2021 by hierdie en verskeie soortgelyke sake van ernstige seksuele mishandeling van kinders in Brits betrokke geraak nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), ten spyte van oorweldigende bewyse, die klagtes teen van die beskuldigdes teruggetrek het. Nadat die eenheid betrokke geraak het, is die klagtes teen die ouers van hierdie betrokke dogtertjie heringestel.

“Die herinstelling van die klagtes is egter ’n skrale troos as ’n mens in ag neem dat daar van hierdie 10-jarige dogtertjie verwag gaan word om oor die mees traumatiese ervarings van haar jong lewe te getuig – jare nadat dit met haar gebeur het. Ons het ook al ervaar dat aanklaers (veral in Brits) geneig is om sake soos hierdie uit te gooi omdat die kind volgens hulle nie in staat is om te getuig nie. Dit is waar dat sake waar kinders die slagoffers is, moeiliker is om te vervolg, maar waar die staat die nodige moeite doen, is dit nie onmoontlik nie. Dit blyk egter dat hierdie toewyding ontbreek,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Volgens Venter beteken die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders niks as daar geen verbetering is op die vlak waar dit eintlik tel nie – ons howe.

Soortgelyke plasings