Reserviste: SAPD voldoen aan hofbevel


AfriForum is op 24 Junie 2019 in kennis gestel dat die SAPD die reserviste verbonde aan die Kameeldrift-polisiestasie opgeroep het om hul jaarlikse skietopleiding te voltooi sodat hulle weer ten volle benut word en hul status as polisiereserviste behou.

Dít volg nadat AfriForum se hofaansoek in die Noord-Gautengse hoë hof in Pretoria geslaag het. Dié aansoek – wat as baanbrekerswerk beskou word – verplig nou die SAPD om toe te sien dat reserviste in Kameeldrift hul jaarlikse bevoegdheidsheropleiding voltooi sodat hulle hul status as polisiereserviste behou. Die SAPD het tot dusver geweier of gesloer om die reserviste op te lei en bestaande beamptes vir heropleiding te stuur. Dit het tot gevolg dat reserviste nie daartoe in staat is om die SAPD na behore te ondersteun nie aangesien hulle nie kragtens wetgewing bevoeg is om vuurwapens te hanteer nie.

“Hierdie nuus is uiters verfrissend en broodnodig vir die burgers van Suid-Afrika wat honger is vir daadwerklike optrede deur die SAPD om aan hul grondwetlike mandaat te voldoen,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder.
“Die SAPD sal nou weer toegang hê tot bykomende lede wat aangewend kan word waar daar ’n tekort aan mannekrag in die Kameeldrift-gebied is. Die SAPD het op verskeie geleenthede aangevoer dat hulle te dun verspreid is en oor te min hulpbronne beskik om te doen wat van hulle verwag word. Indien daar van die beskikbare reserviste gebruik gemaak word, het die SAPD onmiddellik bykomende lede tot hul beskikking wat kosteloos ’n diens kan lewer.”

AfriForum ondersoek tans ander gevalle in Suid-Afrika om soortgelyke aansoeke van stapel te stuur ten einde die SAPD se hand te versterk.

Soortgelyke plasings