|

Rustenburg-tak maak paaie veiliger in Mei

Grassny, stopborde vervang en padtekens verf – dít is net van die aksies wat AfriForum se Rustenburg-tak in Mei aangepak het.

Dié tak het vier stoptekenborde vervang en padtekens op die pad geverf op die hoek van McGregor- en Lucasstraat asook op die hoek van Manuka- en Felicia-laan. Padtekens is ook geverf in Landdros-, Kock-, en Maraisstraat.

Daarbenewens het tak ook 1.85 hektaar gras gesny by Kloofpad en Bobby’s Rugbyklub as deel van hulle volhoubare grassny-projek.

“Aangesien die gras in die winter stadiger groei het ons besluit om ons fokus te verbreed en ook die padtekens in Rustenburg op te knap. Daar is verskeie dele van Rustenburg waar daar nie meer stoptekenborde of duidelike aanduidings op die pad is om motoriste te waarsku dat hulle moet stop nie. Ons het hierdie taak aangepak om ongelukke in die toekoms te voorkom,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groot-Marico.

“Ons is in die bevoorregte posisie om werklik ’n verskil te maak en ons wil elke geleentheid aangryp om dit te doen. Daar is baie uitdagings en probleme in Rustenburg, al kan ons nie elke probleem oplos nie kan ons wel ons bes doen om ’n impak te maak met dit wat ons wel doen,” sê Jan van Zyl, projekleier van AfriForum se Rustenburg-tak.

Viljoen moedig gemeenskapslede aan om deel te word van hierdie projekte om sodoende te help om ’n daadwerklike verskil in Rustenburg te maak. Besoek www.wordlid.co.za of skakel Dawie Conradie by 082 930 9905.

Soortgelyke plasings