|

Nóú van kardinale belang om veiligheid op te skerp ná reeks wrede plaasaanvalle

AfriForum Gemeenskapsveiligheid doen ’n beroep op boere, wat nog nie by hul plaaslike veiligheidstrukture betrokke is nie, om onmiddellik betrokke te raak.

Daar was onlangs ’n vlaag wrede plaasaanvalle en -moorde landswyd nadat die gelykheidshof beslis het dat die dreunsang “Kill the boer” nie haatspraak is nie.

Ná hierdie uitspraak het AfriForum dit duidelik gemaak dat hy hom daarop sal toespits om sy veiligheidstrukture uit te brei en ook om meer opleiding aan boere te bied.

AfriForum het in 2022 sy Beveilig ’n plaas-projek van stapel gestuur wat daarop fokus om boere die nodige opleiding te gee om plaasaanvalle te voorkom en af te weer. Dié opleiding is gratis en sluit basiese vuurwapenhantering, noodhulp, huis-en-haard-beskerming sowel as ’n oorsig van die nodige kommunikasiestelsels in.

Landelike gebiede het unieke uitdagings wanneer dit by polisiëring kom. Faktore soos die groot afstande tussen bure en die tyd wat dit nooddienste neem om te reageer, maak dit nog meer belangrik vir landelike inwoners om hulself te organiseer.

Tussen Januarie en September vanjaar is daar reeds 257 plaasaanvalle en 41 plaasmoorde in Suid-Afrika aangemeld.

“Ons is daarvan oortuig dat hierdie syfers baie hoër sou wees as dit nie was dat al hoe meer boere hul veiligheid begin prioritiseer het nie. Ons het ongelukkig ’n punt bereik waar dit nie meer help om net druk op die regering te plaas om misdaad te takel nie. Ons is nou op ’n plek waar burgers self by hul plaaslike veiligheidstrukture soos buurtwagte, hetsy landelik of stedelik betrokke moet raak,” sê Jacques Broodryk, woordvoerder vir Gemeenksapsveiligheid by AfriForum.

“In die gebiede waar boere goed georganiseerd is met kommunikasienetwerke, reaksiespanne en voorkomende aksies soos patrollies, is daar oor die algemeen ’n duidelike afname in misdaad,” sluit Broodryk af.

As jy belangstel om deel te neem aan AfriForum se projek, Beveilig ’n plaas, besoek

www.beveilignplaas.co.za.

Vir meer inligting klik hier.

Soortgelyke plasings