|

Kgosi Moroka-dag herleef deur gesamentlike erfenisprojek

Kgosi Moroka-dag is vandag deur Kgosi Gaboilelwe Moroka laat herleef deur ’n gesamentlike erfenisprojek in samewerking met AfriForum. Die gesamentlike projek het drie aktiwiteite behels. Eerstens is die gebied rondom die monument ter herdenking van die Groot Trek, geleë op die plaas Tshipinareshoek, skoongemaak en die monument ter herdenking van die verkiesing van die eerste Voortrekkerregering op 2 Desember 1836, geleë op die plaas Morokashoek, is besoek. Daarna is die grafte van Kgosi Moroka II en sy opvolger, Kgosi Tshipinare besoek waartydens hul nalatenskap bespreek is. Laastens het AfriForum die vlag van die Barolong Boo Seleka aan Kgosi Gaboilelwe oorhandig by die Koninklike Kgotla (vergaderplek) van Thaba ’Nchu – die setel van die koninklike familie en die tradisionele regering van dié kultuurgemeenskap.

Kgosi Moroka-dag word jaarliks op 6 Desember deur die Barolong Boo Seleka van Thaba ‘Nchu, oos van Bloemfontein in die Vrystaat, gevier om die aankoms van dié kultuurgemeenskap, toe onder leiding van Kgosi Moroka II, by Thaba ‘Nchu op 6 Desember 1833 te herdenk. Die Koninkryk is gestig op grond wat deur onderhandeling met koning Moshoeshoe I van die Basotho bekom is. Kgosi Moroka is tydens die onderhandelinge ondersteun deur die sendelinge wat saam met hom en sy mense na Thaba ‘Nchu gereis het. Die kontrak wat die Barolong Boo Seleka se besit van die grond gefinaliseer het, is op 7 Desember 1833 onderteken.

“Ek staan in nederigheid voor die geleentheid om Kgosi Moroka-dag te laat herleef – juis op hierdie dag waarop ons die Barolong Boo Seleka se aankoms in ons geliefde koninkryk, Thaba ‘Nchu, presies 190 jaar gelede herdenk. ’n Groot deel van Kgosi Moroka II se nalatenskap is sy wysheid om bande met ander kultuurgemeenskappe te smee en sodoende vreedsame naasbestaan en voorspoed vir sy mense en hul buurgemeenskappe te verseker. Daarom is dit so gepas om hierdie herdenkingsdag te laat herleef deur aktiwiteite wat fokus op erfenis in samewerking met die Afrikaner-kultuurgemeenskap. Dit is belangrik vir ’n volk om te weet wie hulle is en waar hulle vandaan kom, sodat hulle daardie fondament kan gebruik om ’n toekoms te bou wat hulle vir hul kinders wil hê. Die herlewing van hierdie dag waarop ons die opofferings herdenk van ons voorvaders, om vir ons as kulturele gemeenskap in suidelike Afrika ’n eie plek te verseker, simboliseer ook die huidige herlewing van ons gemeenskap met ’n visie om ’n voorspoedige en selfstandige gemeenskap te wees wat ons eie sake bestuur,” sê Kgosi Gaboilelwe Moroka, Kgosi van die Barolong Boo Seleka.

“Dit is vir AfriForum ’n voorreg om met die Barolong Boo Seleka saam te werk om erfenis, kulturele identiteit en ’n nalatenskap van vreedsame naasbestaan te vier. Die Afrikaner-kultuurgemeenskap onthou dat Kgosi Moroka II die Voortrekkers van Hendrik Potgieter gered het tydens hul donkerste uur ná die Slag van Vegkop. Hy het ons in vriendskap ontvang en vir ons voorvaders ’n veilige hawe verskaf op hul reis om ’n plek van hul eie te vind. Die ruimte wat hy verskaf het, was só veilig dat ons ons eerste regering buite die Britse Kaapkolonie hier kon verkies. AfriForum werk daaraan om ’n netwerk van kultuurgemeenskappe, gebaseer op wedersydse erkenning en respek, te vestig wat ondersteuning aan mekaar kan bied. ’n Nuwe orde gebaseer op gemeenskapsfederalisme is besig om op voetsoolvlak vorm aan te neem wat die ruimte skep vir kulturele gemeenskappe om saam die toekoms te bou wat ons vir die kinders van ons gemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika wil hê,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

“Dit is met dankbaarheid dat ek ook vandag kan aankondig dat hierdie herlewing van Kgosi Moroka-dag die begin is van die 10-jaar-aftelling na die tweehonderdjaar viering van ons aankoms in Thaba ‘Nchu wat, as God wil, in 2033 sal plaasvind,” sluit Kgosi Gaboilelwe af.

Soortgelyke plasings