|

Samewerkingsooreenkoms tussen AfriForum en die AmaBhele kaJamangile kan gemeenskappe laat floreer

AfriForum en die kantoor van iNkosi Zwelothando Mabandla het vandag ’n historiese ooreenkoms vir wedersydse erkenning en samewerking onderteken. iNkosi Zwelothando Mabandla is die iNkosi (Koning) van die AmaBhele kaJamangile tradisionele gemeenskap.

Die formalisering van die ooreenkoms volg nadat die burgerregte-organsisasie en die kantoor van iNkosi Zwelothando Mabandla in Desember 2021 tydens ’n vergadering by Mqokolweni Groot Plek naby Maclear (Nqanqarhu) in die Oos-Kaap ooreengekom het om op die gebied van landbou-ontwikkeling saam te werk en ’n erkennings- en samewerkingsooreenkoms te vestig.

iNkosi Zwelothando Mabandla

Die doel van die ooreenkoms is om ’n blywende verhouding te vestig en te handhaaf om ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling te bevorder. Dit kan die volgende insluit:

•          samewerking op die gebied van landbou-ontwikkeling

•          die bevordering van interkulturele versoening en dialoog

•          die bevordering van gemeenskappe wat selfvoorsienend is en hulle self bestuur

•          die bewaring en beveiliging van kulturele identiteit en erfenis

•          die bevordering van moedertaalonderrig

•          die beskerming van eiendomsreg

Die ooreenkoms is op die volgende beginsels gebaseer:

•          wedersydse erkenning en respek

•          vreedsame naasbestaan

•          aanvaarding van mekaar se identiteit, permanensie en bestaan as outonome kultuurgemeenskappe

•          die voorreg van kultuurgemeenskappe om hul eie sake te bestuur en hul eie instellings te stig en in stand te hou sonder inmenging van die staat of enige ander entiteit

•          respek vir die diversiteit van bestuursliggame, gebruike en praktyke, insluitend dié wat verband hou met grondgebruik en grondeienaarskap

•          vryheid van godsdiens en godsdienstige en kulturele praktyke

Barend Uys, hoof van interkulturele samewerking by AfriForum, het op die nuuskonferensie waar die ooreenkoms onderteken is, gesê “ons kan uit die geskiedenis leer dat daar goeie verhoudings tussen verskillende kultuurgemeenskappe was en dat sulke verhoudings ’n voorvereiste vir langtermyn-voorspoed is. Ons gedeelde waardes soos ons Christenskap, wedersydse erkenning en respek maak samewerking vir die toekoms moontlik.”

Barend Uys, hoof van interkulturele samewerking by AfriForum

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sê Suid-Afrika is ’n land met verskeie kulturele gemeenskappe. “Ons is eintlik ’n gemeenskap van gemeenskappe. Die verskeidenheid word ook in die Grondwet erken en daarom is dit belangrik dat kulturele gemeenskappe ook hul eie instellings moet hê.

“Ons kan nie vir die regering of die res van die wêreld wag om al die probleme op te los, ons mense te ontwikkel of armoede te pak nie. As ons saamwerk, is dit makliker om ons probleme op te los en internasionale steun te kry.

“Deur saam te werk, ontken ons ook nie ons eie belange nie. Ons word daardeur net almal sterker. Kulturele instellings is die arms en bene van ’n gemeenskap waardeur daardie gemeenskap hul eie probleme kan oplos.”

iNkosazana Thembela Mabandla-Lingani, privaat-sekretaris van die koning, sê die outeurs van die Suid-Afrikaanse demokrasie en die gemeenskap se voorouers sal glimlag oor vandag se ooreenkoms.

iNkosazana Thembela Mabandla-Lingani, privaat-sekretaris van die koning

“Ons kan nie die verlede ontken nie, maar ons begin vandag skryf aan ’n nuwe hoofstuk en narratief.”

“Die koning het ná COVID tot die besef gekom dat die rol en relevansie van tradisionele leiers herdink met word. Ons wil sien dat ons gemeenskap selfvoorsienend en vooruitstrewend moet wees. Die trust wat hiervoor gestig is, gaan fokus op geleenthede om ons mense, landbou en lewensgehalte te verbeter.”

Ons gedeelde waardes soos ons Christenskap, wedersydse erkenning en respek maak samewerking vir die toekoms moontlik.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê Afrikaners moet besef dat ons nie in isolasie aan die suidpunt van Afrika is nie. “Ons deel die land met baie kulturele gemeenskappe waarvan baie ook Christene en trots op hul taal, erfenis en kultuur is. Ons kan saamwerk omdat ons ’n beter toekoms vir ons kinders en hulle kinders wil help bou. Om vry, veilig en voorspoedig hier te leef, moet dit op die beginsel van respek, wedersydse erkenning en samewerking gedoen word.”

Kriel sê hierdie is die eerste van vele samewerkingsooreenkomste wat AfriForum en ander kultuurgemeenskappe sal beding.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Soortgelyke plasings