|

AfriForum en AmaBhele kaJamangile teken historiese ooreenkoms

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die kantoor van iNkosi Zwelothando Mabandla het vandag ’n historiese ooreenkoms vir wedersydse erkenning en samewerking onderteken. iNkosi Zwelothando Mabandla is die iNkosi van die AmaBhele kaJamangile- tradisionele gemeenskap.

Dit volg nadat AfriForum en die kantoor van iNkosi Zwelothando Mabandla in Desember 2021 tydens ’n vergadering by Mqokolweni Groot Plek naby Maclear (Nqanqarhu) in die Oos-Kaap ooreengekom het om op die gebied van landbou-ontwikkeling saam te werk en ’n erkennings- en samewerkingsooreenkoms te vestig.

“Die ondertekening van hierdie ooreenkoms is ’n belangrike stap in die rigting van die ontwikkeling van ’n volhoubare, bemagtigde en voorspoedige gemeenskap deur die implementering van ontwikkelingsprojekte wat die gemeenskap in die algemeen sal bevoordeel,” sê iNkosi Zwelothando Mabandla.

“Hierdie ooreenkoms is ’n historiese stap in die rigting van die verwesenliking van ons visie om ’n toekoms te skep waar Afrikaners in die toekoms sinvol en vreedsaam met ander gemeenskappe kan saamleef op grond van wedersydse erkenning en respek. Hierdie stap dra by tot die skepping van ’n toekoms waar alle kultuurgemeenskappe permanent vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika kan lewe,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Die doel van die ooreenkoms is om ’n blywende verhouding te vestig en te handhaaf om ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling te bevorder. Dit kan die volgende insluit:

  • samewerking op die gebied van landbou-ontwikkeling
  • die bevordering van interkulturele versoening en dialoog
  • die bevordering van gemeenskappe wat selfvoorsienend is en hulle self bestuur
  • die bewaring en beveiliging van kulturele identiteit en erfenis
  • die bevordering van moedertaalonderrig
  • die beskerming van eiendomsreg

Die ooreenkoms is op die volgende beginsels gebaseer:

  • wedersydse erkenning en respek
  • vreedsame naasbestaan
  • aanvaarding van mekaar se identiteit, permanensie en bestaan as outonome kultuurgemeenskappe
  • die voorreg van kultuurgemeenskappe om hul eie sake te bestuur en hul eie instellings te stig en in stand te hou sonder inmenging van die staat of enige ander entiteit
  • respek vir die diversiteit van bestuursliggame, gebruike en praktyke, insluitend dié wat verband hou met grondgebruik en grondeienaarskap
  • vryheid van godsdiens en godsdienstige en kulturele praktyke

“Wanneer ons ons geskiedenis bestudeer, ontdek ’n mens ons het voorouers gehad wat verstaan het dat goeie verhoudings tussen kultuurgemeenskappe ’n voorvereiste is vir langtermyn-voorspoed. Dit is uit daardie ervaring wat ons put vir die formalisering van hierdie verhouding. Ons glo ons gemeenskappe sal in die toekoms floreer as ons wys optree en saamwerk op gebiede van wedersydse belang en besorgdheid,” sê Barend Uys, hoof van interkulturele samewerking by AfriForum.

“Die ondertekening van hierdie ooreenkoms is ’n belangrike bousteen in die proses om ons visie te verwesenlik om selfstandige gemeenskappe te bou wat aan mekaar verantwoordbaar is en wat voedselsekerheid en landelike ontwikkeling prioritiseer,” sê iNkosazana Bhelekazi Mabandla, hoof van die Koninklike Diplomatieke Diens van die koninklike Jamangile kaMabandla-familie.

Soortgelyke plasings