Sewe plaasaanvalle in Noordwes: Premier moet ingryp soos by Coligny


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n beroep gedoen op Supra Mahumapelo, premier van die Noordwes, om by die vlaag van plaasaanvalle in te gryp wat dié provinsie teister, soos wat hy vroeër by Coligny gedoen het. Dit volg nadat daar in die afgelope vier weke sewe plaasaanvalle in dié provinsie plaasgevind het.

Mahumapelo het ná die dood van die sestienjarige Matlhomola Mosweu vroeër vanjaar ’n politieke toespraak in Coligny gehou waar hy wit rassiste vir Matlhomola se dood blameer het. “There is no confusion at whose hands did Matlhomola lose his life. He was in the hands of South Africans who are Afrikaners in Coligny,” het hy gesê. (Daar is geen verwarring oor onder wie se hande Matlhomola sy lewe verloor het nie. Hy was in die hande van Suid-Afrikaners wat Afrikaners in Coligny is.)
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die golf van plaasaanvalle wat die provinsie teister Mahumapelo se ingryping vereis. “Mahumapelo se stilswye oor hierdie kwessie tot op hede kan maklik die indruk skep dat hy hom nie aan plaasaanvalle steur nie, moontlik omdat die slagoffers wit is, of moontlik omdat die oortreders nie Afrikaners is nie,” sê Roets.

Die volgende plaasaanvalle is in die afgelope vier weke in Noordwes gepleeg:

  • 14 April 2017 – ’n plaasaanval te Ottosdal
  • 5 Mei 2017 – ’n aanranding op ’n plaas te Leeudoringstad
  • 9 Mei 2017 – ’n aanranding op ’n plaas te Wolmaransstad
  • 16 Mei 2017 – ’n moord en poging tot moord op ’n plaas te Sannieshof
  • 30 Mei 2017 – ’n plaasaanval te Basfontein/Derby
  • 2 Junie 2017 – ’n verkragting op ’n plaas te Sannieshof
  • 4 Junie 2017 – ’n aanval op ’n plaas te Koperfontein/Derby

Soortgelyke plasings