|

Só lyk samewerkingsplan teen plaasmoorde

Suid-Afrikaners het vir die eerste keer in jare ’n sprankie hoop dat die regering ernstig is oor die voorkoming van plaasmoorde en –aanvalle na ’n geskiedkundige ooreenkoms vandeesweek tussen die SAPD en AfriForum gesluit is.

Die burgerregte-organisasie veg sedert 2010 teen die voortslepende aanvalle en moorde op boere en gemeenskappe in landelike gebiede. Talle veldtogte, plaaslik en internasionaal, is sedertdien deur AfriForum begin om plaasmoorde en –aanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar.

Jarelange pogings om die regering en SAPD sover  te kry om die krisis te erken en iets daaraan te doen, het klaarblyklik nou vrugte begin afwerp met lt.-genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, wat aangekondig het dat die SAPD met AfriForum wil saamwerk om plaasaanvalle hok te slaan.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, bestempel die samesprekings as ’n deurbraak en die eerste stap in die regte rigting.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê hoewel die samesprekings met die polisie verwelkom word, is daar nie rede om fees te vier voordat werklike resultate gesien kan word nie.

Met verwysing na die samewerkingsplan het Cameron gesê die heel eerste stap is om met die provinsiale polisiekommissaris in Gauteng te vergader. Daarna sal die ander provinsies aan die beurt kom.

Die doel met die vergaderings is om standaard operasionele prosedures op te stel waarvolgens die polisie ’n mandaat kan aanvaar om met alle gemeenskapsveiligheidstrukture saam te werk om moorde te stop.

AfriForum sal hulpbronne in terme van opleiding en toerusting waar moontlik beskikbaar stel. Daar sal ook in samewerking met die polisie op nasionale vlak na forensiese opleiding gekyk word omdat toneelbewaring na ’n misdaad nie meer genoeg is nie.

Cameron het gesê AfriForum wil ook met die polisie op hoë vlak saamwerk om probleme op grondvlak uit te wys waar daar bewerings is van polisiebeamptes wat self by misdaad betrokke is. Hammanskraal buite Pretoria is een van die stasies waar ernstige probleme ondervind word. In April het daar byvoorbeeld net 2 beamptes vir ’n skof opgedaag terwyl daar gewoonlik meer as 40 aan diens is om die hele gebied te dek.

Volgens Cameron gaan AfriForum ook sy buurtwagte en patrollies uitbrei om met die polisie saam te werk. Deel van die beveiligingstrategie is ook om voorval-scenario’s met buurtwagte en patrollies in te oefen sodat hulle weet hoe om tydens aanvalle op te tree. Die eerste toetslopie in die verband is einde vandeesmaand wanneer AfriForum se provinsiale patrollies regoor die land saam met die polisie sal optree.

Cameron het gesê Phahlane is ’n beroepspolisieman met ’n agtergrond in forensies. “Hy besef die noodsaaklikheid van grondvlakstrukture en prosedures. Ons is positief dat hy in samewerking met ander rolspelers soos AfriForum ’n verandering in die hantering van landelike veiligheid kan teweegbring.”

Phahlane het ook aangedui dat die polisie binnekort met landbou-organisasies sal vergader oor ’n verbeterde strategie vir landelike veiligheid.

Lorraine Claasen, navorser by AfriForum, wat reeds geruime tyd data en inligting rondom plaasmoorde insamel, het dit verwelkom dat die SAPD en die burgerregte-organisasie vennote kan wees om saam te veg teen die hoë vlakke van geweld in landelike gemeenskappe.

Die polisie en AfriForum gaan nou saamwerk om moontlike tendense rondom aanvalle te identifiseer. Die doel hiermee is onder meer om gemeenskappe bewus te maak oor waarvoor hulle op die uitkyk moet wees.

Claasen het gesê die polisie en AfriForum se syfers vir plaasmoorde stem baie ooreen, maar vir plaasaanvalle is die van die polisie hoër omdat aanvalle op werkers nie altyd deur die media gedek word nie.

Volgens die syfers was daar van 1990 tot 2015 altesame 3 745 plaasaanvalle en 1 785 moorde.

Claasen het gesê die syfers het ook in die verlede verskil omdat AfriForum dit volgens die kalenderjaar en die SAPD volgens die finansiële jaar bereken het. Dit sal nou aangepas word om ooreen te kan stem.

Claasen het gesê AfriForum sal ook saam met die SAPD kyk oor die modus operandi van aanvalle en ander aspekte soos hoeveel aanvallers by ’n aanval betrokke is. Waar dit in die verlede gewoonlik tussen vier en vyf was, blyk dit nou dat dit tussen twee en tien is en dat aanvallers in groepe werk. Een groep sal byvoorbeeld binne die huis of gebou by die aanval betrokke wees en ’n ander sal buite wag in byvoorbeeld ’n wegkomvoertuig. Die jongste tendens blyk ook dat aanvalle op kleinhoewes afneem, maar toeneem op afgeleë plase.

Ingevolge die ooreenkoms wat bereik is, sal daar vir eers voorkeur gegee word aan gebiede wat uitgelig is waar die meeste aanvalle voorkom. Dit sluit in Noordwes (Brits, Mooinoi, Rustenburg en Potchefstroom), Limpopo (Modimolle, Letsitele, Lephalal en Westenburg), Gauteng (Hercules, Hekpoort en Muldersdrift) en KwaZulu-Natal.

 

 

Soortgelyke plasings