|

Nuuskommentaar: Leef jy in die uithoek of vanuit die hartland?

Die wêreld is in chaos. Tot ’n maand terug het die konflik tussen Rusland en Oekraïne die internasionale nuustoneel oorheers. Tans word die nuus oorheers deur die konflik tussen Israel en Hamas en daar heers besorgdheid oor die moontlike eskalasie van dié konflik. Op die plaaslike front is die berugte voorgestelde BELA-wetgewing deur die parlement gestoomroller terwyl nasionale gesondheidsversekering burgers aan die praat het. Maar dit is veral stemme wat vanuit die VSA opgaan dat Suid-Afrika se posisie in die Agoa-handelsooreenkoms hersien moet word wat denkende burgers laat vrae vra.

Die regering en regerende party maak met reëlmaat uitsprake en doen stappe oor internasionale aangeleenthede wat, wanneer ’ n mens die werklikheid in die oë kyk, nie direk verband hou met die welstand van burgers nie. ’ n Mens wonder waarom daar soveel aandag aan dié dinge geskenk word wat so vêr van die huis af is, terwyl daar soveel is om hier op eie bodem te doen.

Wat hier gedoen moet word, is immers nie net nodig nie – dit is dringend.

Dit is juis uitsprake oor en die benadering rondom die konflik tussen Rusland en Oekraïne wat rolspelers in die VSA hul stemme laat dik maak oor Suid-Afrika se plek in die Agoa-ooreenkoms. Net so word belangrike handelsvennote vervreem deur die benadering wat gevolg word oor die konflik in die Midde-Ooste.

Dalk lê die antwoord daarin dat dit makliker is om te praat as om te doen. Dit is baie makliker om aandag te trek (en dalk aandag af te trek?) deur te praat oor sake wat tans internasionaal opspraak maak as om iets te doen aan die uitdagings wat burgers dag-tot-dag in die gesig staar as gevolg van ’n vervallende staat. Dit is makliker om iets te sê oor iets waaraan ’ n mens niks kan doen nie, as om iets te doen aan ’n moeilike saak waaraan jy werklik ’n verskil kan maak.

Daar is egter nog ’n moontlike verduideliking. Die vraag is: leef jy vanuit jou gemeenskap na die res van die wêreld toe; of leef jy as ’n vryswewende individu wat deel is van die universele mensdom sonder voetsoolvlakwortels en -verantwoordelikhede? Dit is duidelik dat die regerende elite hulself beskou as deel van die universele sosialistiese beweging en dat utopiese universele doelwitte belangriker is as die verbetering van plaaslike gemeenskappe se welstand.

Elkeen van ons het genadiglik die voorreg om ’n keuse te maak oor hoe ons dink en hoe ons die lewe benader.

Kies jy om te dink dat jy leef in hierdie “beproewende verste uithoek van die aarde” of kies jy om te dink dat jy leef “vanuit die hartland van jou gemeenskap”?

Energie en oorspronklikheid word ontsluit wanneer jy kies om te leef met jou voete op die grond, vanuit jou gemeenskap en daarop te fokus om iets te doen aan sake waarop jy wel ’n invloed kan uitoefen.

Dit is werklik bevrydend om deel te neem aan die voetsoolvlakinisiatiewe en -projekte van gemeenskapsorganisasies omdat ’n mens met jou eie oë die verskil wat gemaak word kan sien. Dit verdryf die gevoel van magteloosheid en skep hoop vir die toekoms.

Soortgelyke plasings