Solidariteit Beweging gee voorwaardelike steun aan ’n veelpartyregering

Die Solidariteit Beweging, wat onder andere uit AfriForum en Solidariteit bestaan, het vandag sy voorwaardelike steun gegee vir ʼn tipe veelpartyregering, met die uitsluiting van radikale partye, omdat die ANC nie vertrou kan word om alleen te regeer nie. Die Beweging het ook gesê hy sal deelneem aan ‘n nasionale dialoog om Suid-Afrika op ‘n nuwe pad te plaas, waar almal gelyke behandeling sonder rassewette kan geniet.

Die Beweging het egter gesê sy voorwaardes vir steun sluit in politieke ruimte vir kulturele selfverwesenliking, die skrapping van die BELA-konsepwet en die NGV-wet, en markvriendelike ekonomiese beleid wat groei, werksekuriteit en werkskepping sal bevorder. Die ANC het sedert 1994 ‘n totaal van 116 rassewette ingestel, wat ‘n bespotting maak van grondwetlike aansprake op nie-rassigheid. Dit is nie versoenbaar met ‘n grondwetlike demokrasie, ‘n groeiende ekonomie en ‘n werkende staat nie. Die uitkomste van die ANC se transformasiebeleid wys dat hierdie sentrale staatsideologie nie werk nie, en dat dit met ‘n meer praktiese restourasiebeleid vervang sal moet word om die land van die afgrond weg te kry.

Die Solidariteit Beweging onderneem ook om, as bevredigende ooreenkomste bereik word, op groot skaal betrokke te raak by die verskaffing van vaardighede, infrastruktuurprojekte, soos water en sanitasie, gemeenskapbeveiliging en landbouprojekte in landelike gebiede.

Die Beweging het ook bevestig dat hy reeds informeel in gesprek is met die meeste partye wat by koalisiegesprekke betrokke is. Sy voorwaardes is ook reeds deurgegee.

Die Solidariteit Beweging is die grootste Afrikanerorganisasie en het meer 600 000 gesinne as lede wat sowat 1,8 miljoen Afrikaners verteenwoordig.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, smag mense na ‘n werkende land. Die Solidariteit Beweging sal inklim en help, maar dan moet ons die kulturele vryheid gegun word om as gemeenskap te kan leef. Suid-Afrika het ‘n herset van rasseverhoudinge nodig, en ‘n nasionale beleid van restourasie in plaas van transformasie.

AfriForum het reeds ooreenkomste met talle plaaslike owerhede vir hulp met dienslewering en het die vermoë, kennis en modelle om te help met dienslewering. Solidariteit het ‘n volledige databasis van vaardighede om te help.

Volgens Buys beplan hulle nie om met die ANC of enige ander party “in die
bed” te klim nie, maar eerder in die “kryt”. In die kryt is daar spelreëls, maar daar gaan steeds robuuste verskille wees.

“Die strategiese doel is dus nie oppervlakkige goeie verhoudinge of ‘n tydelike en kunsmatige nasiebou nie, maar praktiese uitkomste wat lei tot blywende goeie verhoudinge én groter nasionale eenheid in verskeidenheid.”

“Ons benadering is een van samewerking (‘cooperation’), en nie koöptering nie.
Daarom is ons doel nie om die land te probeer ‘red’ deur ‘n nuwe soort ‘voogdyskap’ waarvoor ons buitendien nie die hulpbronne het nie, maar om die nodige politieke ruimte te beding om ons selfdoenprojekte uit te voer terwyl ons ons landgenote help waar ons kan en waar hulle wil,” het Buys gesê.

Soortgelyke plasings