|

AfriForum slaggereed om kritieke biodiversiteitsgebied van Marakele Nasionale Park te beskerm

’n Broeikolonie van die bedreigde kransaasvoëls word tans in gevaar gestel deur beplande mynbedrywighede in die Waterberg, langs die Marakele Nasionale Park. Die burgerregteorganisasie AfriForum het reeds stappe gedoen om te registreer as ’n belanghebbende en geaffekteerde party in hierdie saak.

Indien  die beplande bedrywighede sou voortgaan sal dit verwoestende gevolge inhou vir die unieke karakter van die Waterberg en omgewing. Die natuurlike habitat van die kransaasvoëls, asook die skaars wildehonde, word hierdeur bedreig.

“Hierdie area is in 2019 tot ’n kritieke biodiversiteitsgebied verklaar, daarvolgens mag daar geen ontwikkeling en/of spesifiek mynbouaktiwiteite hier plaasvind nie. Hierdie beplande bedrywighede moet summier in die kiem gesmoor word. Ons wag dus nou vir die dokumente van die omgewingsimpakbepalingspraktisyn waarna AfriForum ’n spesialis sal aanstel om kommentaar op te stel,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

“AfriForum is nie gekant teen mynboubedrywighede nie maar dit moet op ’n etiese en wettige wyse geskied. Hierdie kritieke biodiversiteitsgebied moet beskerm word en ons mag nie toelaat dat dit ongeneesbaar verander word deur mynbedrywighede nie,” sê Cee-J van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Soutpansberg.

“Ons moedig alle mense aan wat bekommerd is dat die natuurskoon van dié kritieke biodiversiteitsgebied vernietig sal word om hulle steun agter ons te plaas en betrokke te raak,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings