|

Kathu-tak dra by tot dorp se sukses

AfriForum se Kathu-tak het in Junie gewoeker om die dorp op te knap. Op 7 Junie het ’n werker van dié tak gehelp met die burgemeester se skoonmaakprojek in Kudustraat en by die pompstasie. Sowat 70 swartsakke vullis is tydens dié geleentheid verwyder.

Die tak het 20 liter wit padverf vir die projek verskaf en die werkers ook van handskoene voorsien om tydens skoonmaakaksies in Kathu en Olifantshoek te dra. Twee addisionele 20-liter-blikke padverf is op 11 Julie deur die tak geskenk om die padeilande in Kathu en Olifantshoek oor te verf.

AfriForum se Kathu-tak het ook ’n projek geloods om Gamagara Fire en Rescue te ondersteun deur op 12 Julie ’n nuwe kragstelsel te installeer. Inko Power Solutions het hierdie inisiatief gekoördineer saam met Dean Espach, lid van AfriForum én van die plaaslike regering. Die nuwe kragstelsel bring ’n einde aan beurtkrag wat radio- en telefoonkommunikasie ontwrig het.

Werkers van AfriForum se Kathu-tak het op 12 en 13 Junie gehelp om die sirkel voor die Heritage Square-winkelsentrum in Frikkie Meyerstraat oor te verf. Daarna het hulle die spoedhobbels in Rooisandweg ook oorgeverf.

“AfriForum bedank die gemeenskap van Kathu vir hul ondersteuning en samewerking. Ons sal voortgaan om ons dorp en die gemeenskap eerste te plaas. Saam kan ons ’n suksesvolle toekoms vir Kathu skep,” sê Werner Strauss, distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

Soortgelyke plasings