|

SOLIDARITEIT HELPENDE HAND BEGIN TUISVERSORGINGKURSUS OM SIEKES EN BEJAARDES IN NOOD TE HELP

Deur Marthinus Koekemoer

Solidariteit Helpende Hand het vandeesmaand begin om ’n nuwe kursus vir tuisversorging van bejaardes aan te bied.

Dit volg ná die organisasie die afgelope tyd oorval is met versoeke van mense wat behoefte aan tuisversorging het. Die kursus is die eerste van sy soort en daar is reeds 19 studente wat vir studie in Pretoria en Bloemfontein ingeskryf het.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, het verlede Donderdag by ’n geleentheid by Huis Janri in die Moot, Pretoria, gesê daar is ’n kritieke tekort aan tuisversorgers en dat dit Helpende Hand genoop het om aan studente wat ʼn passie het om na mense om te sien, bekostigbare en goeie opleiding in dié veld te bied.

“Die eer van die professie van versorging het vir dekades skade gelei. Wat Helpende Hand onder meer wil regkry, is om die eer en passie in die professie van versorging terug te sit,” sê Noëth.

Die hoë koste om in ’n tehuis te bly en die COVID-19-pandemie het die behoefte vir tuisversorging skerp laat styg. Noëth sê daar is baie bejaardes wat bloot nie die koste van verblyf in ’n tehuis kan bekostig nie en dus verkies om tuis versorg te word.

“Helpende Hand het nie met die opleiding begin bloot omdat ons dink dit is ’n goeie koers om in te slaan nie. Ons het daarmee begin omdat daar ’n geweldige en dringende nood is en mense feitlik daagliks na ons kantore toe bel om vir versorgers te vra of wil weet of ons versorgers kan oplei. Ons het besef die nood moet aandag kry,” sê Noëth.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het ook die geleentheid bygewoon. “Die mense wat sorg nodig het, het hul lewe lank ’n bydrae tot die gemeenskap gemaak. Nou moet hulle versorg word, maar dit is nie net fisieke sorg nie; dit is ook emosionele sorg.”

Helpende Hand sal die kursus in samewerking met Gratia Via Akademie oor ’n periode van ses maande aanbied. Tien van die studente sal ook praktiese opleiding by die Siesta Oord in Bloemfontein ontvang, terwyl die res hul studies en praktiese opleiding in Pretoria sal aanpak. Ná voltooiing van die kursus sal ’n Seta-geakkrediteerde Nasionale Sertifikaat in Tuisversorging aan die studente uitgereik word. Dit sal ook as krediete vir verdere studies in verpleegkunde aangewend kan word.

Vir navrae, meer inligting of om ’n skenking tot die studiefonds vir studente in tuisversorging te maak, stuur ’n e-pos na tuisversorging@helpendehand.co.za

Soortgelyke plasings