Staat se waterregrukplan skep burokrasie, nie oplossings nie – AfriForum


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag gesê Gugile Nkwinti, minister van water en sanitasie, se regrukplan probeer ou probleme met onnodige burokrasie aanpak.
Die minister het hierdie aankondiging vandeesweek tydens ’n tweejaarlikse konferensie van die Waterinstituut van Suidelike Afrika (Wisa) in Kaapstad gemaak. Dié regrukplan bevat ’n meesterplan vir water tot en met 2030 en wil ’n afsonderlike gesag hiervoor stig.

Volgens Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake, verwelkom AfriForum die minister se erkenning dat die situasie ten opsigte van water heeltemal handuit geruk het en dat dringende stappe nodig is, maar waarsku ook dat die aangekondigde regrukplan met groot omsigtigheid bejeën moet word. “Die uitdagings – soos waterbesoedeling en waterverliese – is al ou nuus en ondanks doelgerigte kabinetsbesluite het die departement bitter min oor twee dekades daaraan gedoen. Wat ironies is, is dat dieselfde bestuurspan wat vir die agteruitgang verantwoordelik was, behou is om die regrukpoging te lei. Dit wil voorkom asof die departement goed is om gestelde doelwitte te onderskryf, maar nie oor die kundigheid en vermoë beskik om dit uit te voer nie.”
Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, sê die regrukplan blyk net nóg leë beloftes te bevat terwyl dit selfs meer onnodige burokrasie skep. “Die konsepplan voldoen nie aan die vereistes wat daarvoor gestel word nie, naamlik ’n geïntegreerde aksieplan om spesifieke uitkomste te bereik. Dit is eintlik meer van ’n strategiese doelwitdokument wat nie uitspel hoe die uitkomste bereik gaan word nie. Belangrike bestuursaksies soos effektiewe waterbeplanning en implementering word totaal afgeskeep, terwyl die departement nog moet herstel. As ons dit moet beoordeel na aanleiding van die geskiedenis, sal hierdie net nog ’n duur laag burokrasie byvoeg en ekstra werksgeleenthede skep, terwyl die waterprobleme nie opgelos word nie.”
Volgens Brink is dit onwaarskynlik dat nóg ’n waterliggaam die agterstande in ’n bietjie meer as ’n dekade sal uitwis en spesifieke doelwitte behaal nadat die hele departement dit nie in bykans ’n kwarteeu kon regkry nie. “Die regte mense met die regte vaardighede is nodig om die proses te dryf, nie noodwendig méér mense nie. Die departement moet ook eers sy onreëlmatige besteding onder beheer kry en dít alles gaan nie gebeur deur dieselfde onbevoegde mense rond te skuif en onnodige liggame te skep nie.”

Soortgelyke plasings