|

Strafregstelsel versaak slagoffer weereens ná verdere uitstel van hofsaak

AfriForum se privaatvervolgingseenheid spreek sy misnoeë uit oor die onnodige en vermybare verdere vertraging van die saak teen Gerald Hattingh, ’n landdros in die Belville-area.

Die saak is tot 25 November 2020 uitgestel nadat dit gister op die hofrol geplaas is vir verhoor. Die rede hiervoor is dat die voorsittende beampte homself gerekuseer het omdat hy die beskuldigde klaarblyklik goed ken. Die landdros het korrek opgetree deur homself te rekuseer maar dit is ’n situasie wat voorsien en dus vermy moes word.

Dié saak sloer nou al vir byna ’n dekade en sou uiteindelik gister begin het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in 2019 namens Verna Cloete, die klaer, betrokke geraak nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik geweier het om vervolging in te stel. Die NVG het egter ’n ommekeer gemaak nadat die eenheid betrokke geraak het, en besluit om wel vervolging teen Hattingh in te stel op ’n klag van roekelose en nalatige bestuur. Die insident, waarin Hattingh vir Cloete raakgery het, het reeds in 2011 plaasgevind.

Die privaatvervolgingseenheid is gestig om selektiewe vervolgings aan te spreek. Die afleiding is regverdigbaar dat sekere mense moontlik as gevolg van hulle politieke of ander affiliasie beskerm word teen vervolging.

Die aanklaer het vanoggend in gesprek met die klaer aangedui dat die NVG self teleurgesteld is dat die verhoor nie gister kon voortgaan nie. Niemand het egter nog ’n verduideliking gegee waarom ’n landdros wat geskik is om die verhoor te behartig, nie vir die verhoor gereël is nie.

Volgens adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, is hierdie saak ’n sprekende voorbeeld van waarom mense besig is om vertroue in die strafregstelsel te verloor.

“Eerstens het dit die NVG byna ’n dekade geneem om vervolging in te stel al was daar ’n prima facie-saak teen die beskuldigde. Tweedens het die NVG versuim om enige terugvoer aan die klaer te gee totdat die privaatvervolgingseenheid betrokke geraak het. Hulle het ook aangevoer dat hulle die dossier verloor het, waarvan ons toe ’n afskrif aan hulle moes verskaf,” sê Vorster.

“Laastens moes die voorsittende beampte hom reeds by die vorige verskyning van Hattingh van die saak onttrek het – nié nadat getuies reeds gedagvaar is om te verskyn en die klaer hoop gehad het dat die saak uiteindelik gaan begin nie. Dit is onverskoonbaar dat ’n saak as gevolg van “administratiewe” nalatigheid nie kon voortgaan nie.”

  • Sien die skakel na die vorige mediaverklaring hier.

Soortgelyke plasings