|

Stryd teen korrupsie op plaaslike vlak skop af

Die burgerregte organisasie AfriForum se knak korrupsie opleidings-veldtog het vandag in Gauteng afgeskop. Dit volg nadat AfriForum se teenkorrupsie-eenheid na plaaslike vlak uitgebrei het om korrupsie op plaaslike vlak te ontbloot.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n omvattende voorlegging gemaak om prakties te verduidelik wat korrupsie is en wat nodig is om dit aan die kaak te stel. Hy het ook verduidelik watter rol faktore soos goeie ondersoekwerk, getuies, deskundige getuies, dokumentasie, fluitjieblasers en tegnologie (soos selfone en rekenaars) speel in die proses om korrupsie te ondersoek en uiteindelik te ontbloot.

Nel het beklemtoon dat korrupsie nie net neerkom op die verwisseling van geld tussen individue met die doel om enige voordeel daaruit te trek nie. Enige handeling of aksie wat daartoe kan lei dat ’n korrupte verhouding geskep word of kan ontstaan, dui reeds op korrupsie.

In die volgende paar maande sal Nel en Wico Swanepoel, regsadviseur: plaaslike korrupsie takstrukture in al die provinsies besoek en die opleiding aanbied.

“Korrupsie raak almal in die gemeenskap en die totale bekamping daarvan begin by elke individu. Enigiemand met inligting oor enige korrupte optrede deur individue het ’n verantwoordelikheid om ’n klag by die polisie in te dien of as fluitjieblaser op te tree. AfriForum is daartoe verbind om fluitjieblasers te beskerm wat met inligting oor korrupsie vorendag kom,” sê Swanepoel.

Die doel met die korrupsie-opleiding is om gewone mense bedag te maak oor wat korrupsie is, hoe dit ’n gemeenskap en samelewing negatief raak en uiteindelik tot minagting van die oppergesag van die reg lei.

Nel het aan die hand van verskeie gevallestudies en situasies verduidelik hoe gewone mense rooi ligte rondom korrupsie kan raaksien. ’n Gewone klerk wat skielik op ’n dag met ’n duur sportmotor by die werk opdaag en nie kan verduidelik hoe hy daaraan gekom het of hoe hy dit kan bekostig nie, sal die wenkbroue laat lig. In só ’n geval kan daar byvoorbeeld ’n klag by die polisie of enige ander ondersoekeenheid ingedien word.

Net het verduidelik dat werkgewers of werknemers aan die hand van gedrag of lewenstyl ook afleidings kan maak wanneer individue  moontlik by korrupsie betrokke is. Dit sluit in individue wat hoë persoonlike skuld het, buitensporige dobbelgewoontes het of selfs onwillig is om verlof te neem omdat hulle in hul afwesigheid uitgevang kan word.

Individue wat bo hul inkomste of verklaarde rykdom leef, wat noue verhoudings met verskaffers het of verskaffers wat aandring om net met sekere persone sake te doen, moet die waarskuwingsligte laat flikker.

 

Soortgelyke plasings