|

Suid-Afrika een stap nader aan “internet-sensorskap”

Suid-Afrikaners sal dalk binnekort die rolprent- en publikasieraad (RPR) se toestemming moet kry voordat hul op Facebook by hul gunsteling restaurant “aanmeld”.

Dit volg nadat die Nasionale Vergadering onlangs die RPR se omstrede voorgestelde internetregulasies-wet goedgekeur het.

Volgens die regering het dié wetsontwerp se regulasies ten doel om kinders van eksplisiete en seksuele inhoud te beskerm en haatspraak op die internet te reguleer, maar opposisiepartye het daarop gewys dat die wetgewing eerder ten doel het om die internet te reguleer en daarom nie implementeerbaar is nie.

Hul meen dit kom neer op sensorskap en is daarom ongrondwetlik.

Liezel van der Merwe van die Inkatha Freedom Party, het luidens mediaberigte uitgelig dat die wetsontwerp ook verwag dat enigiemand wat ’n inkomste genereer deur die skep en verspreiding van aanlyn-inhoud, ’n fooi moet betaal en hul inhoud laat goedkeur voor hul dit plaas.

Die RPR sal verder ook die mag hê om sekere inhoud te blokkeer vir Suid-Afrikaanse internet-gebruikers, insluitend “verbruiker-gegenereerde inhoud” soos plasings op Facebook en Twitter.

Die EFF het ook die wetsontwerp verwerp en dit as “onprakties” en “’n bedreiging vir vryheid van spraak” beskryf. Mbuyiseni Ndlozi, die party se nasionale woordvoerder, meen die party sal hulself tot die Konstitusionele Hof wend om dié voorgestelde wet teen te staan.

Drukgroepe vir die behoud van mediavryheid in Suid-Afrika het reeds in 2015 kommer uitgespreek oor die ernstige implikasies wat dié voorgestelde wet vir mediavryheid inhou.

Dit het wye reaksie en teenkanting van druk- en mediagroepe soos die Right2Know-veldtog (R2K)  en Avaaz ontlok.

Avaaz is ’n globale netwerk wat 41 miljoen mense wêreldwyd verteenwoordig en besluitneming beïnvloed. Avaaz meen dit sal prakties onmoontlik sal wees om die regulasies deurentyd toe te pas.

Luidens ’n verklaring van R2K in 2015, dui ’n regsmening wat hulle gekry het ook daarop dat die voorgestelde regulasies ongrondwetlik is. “Niemand moet aan die drakoniese sensorskap van die RPR onderwerp word nie,” lui dié verklaring.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat dié wetgewing ’n growwe ingryping op die reg om inligting te ontvang sal wees omdat die internet tot ’n groot mate gesensureer sal word.

“Die pad na die hel toe was nog altyd met goeie bedoelings geplavei.”

Dié voorgestelde wet moet nou vir goedkeuring voor die Nasionale Raad van Provinsies dien voordat dit na president Cyril Ramaphosa gestuur kan word.

Soortgelyke plasings