|

Nuuskommentaar: Dalk moet die Bart Nel in elkeen van ons weer opstaan

Ek het onlangs weer na die video Die 1914 Rebellie en Bart Nel gekyk. Hoe aangrypend is die verhaal nie vandag nog van ’n boer wie se onblusbare gees hom in staat gestel het om die verwoesting en verlies van sy plaas ná die oorlog en die verlating deur sy vrou en familie te verwerk nie?

Bart rebelleer teen die “verkeerde”. Hy staan op teen die besluit van die Louis Botha-regering om burgers op te roep om Duits-Suidwes-Afrika binne te val nadat Groot Brittanje oorlog teen Duitsland verklaar het. Baie van die burgers het nie kans gesien om aan die kant van die Geallieerdes te veg nie. Die verdrukking onder die Britte en die lyding tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) was immers nog in baie se geheue vasgebrand.  

Bart verklaar: “As ek nie hierteen rebelleer nie, dan wil ek nie meer my naam hê nie. Dan wil ek nie Bart Nel wees nie …”

Ja, ek dink dit is hoe baie Afrikaners en ander landsburgers vandag oor die ANC-regering voel en die chaos en duisternis waarin hulle die land gedompel het …

Die Rebelle het bitter swaar gekry. Bart sê in ’n stadium dat die manne maar moet huis toe gaan: “Sê vir hulle dis verby …”

Hy bring vyf jaar in die gevangenis deur. Maar deur dit alles bly hy staande en bly hy die hardkoppige, eiesinnige realis en doener. Hy bly sterk in sy oortuigings en leef dit uit. Daarom ag, respekteer en bewonder só baie mense hom.

Dit is ook Bart wat as ’n vry man verklaar: “Ons gees van vryheid en onafhanklikheid is nie dood nie …”

Bart begin van voor af om ’n plaas op te bou. Hoeveel van ons voorouers moes nie telkens weer oor begin nie? Weliswaar is Bart alleen, maar onverskrokke verklaar hy: “My kry hulle nooit nie. Ek is Bart Nel van toe af en ek is nog hy.”

Byna 110 jaar later sien ek elke dag baie Bart Nelle in aksie. Baie van hulle woeker as vrywilligers in AfriForum se takke en buurtwagte en ons is trots op wat hulle vermag. Ander Bart Nelle werk agter die skerms en bou aan Afrikaner-instellings wat ons mense hoop, vooruitsigte en ’n toekomsvisie bied.

Die werklikheid vandag is dat ons soos Bart Nel in “opstand” teen die swak regering en geen dienslewering gekom het. Nie “opstand” in die ware sin van die woord nie. Nee, ons mense se uitgangspunt is net dat dit nie help om vir die ANC te wag nie én dat ons nie hul toestemming nodig het om dinge vir onsself te maak werk nie.

Ons gebruik grondwetlike ruimtes en wetgewing tot ons beskikking om staatsverval te keer en ’n nuwe werklikheid op die grond neer te sit.

Daarom berus die Solidariteit Beweging se Federale Plan op sewe bene wat ontwikkel en uitgebou moet word om by groter selfstandigheid, outonomie en vryheid uit te kom. Dit is die bou van eie instellings, die versterking van ankergemeenskappe, Pretoria as kulturele kanton en die ontwikkeling van Orania van dorp tot stad. Groeiende outonomie vir die Wes-Kaap en groter samewerking met Afrikaners in die buiteland en ander kulturele gemeenskappe in die land is ook belangrik.

Maar, soos Flip Buys sê: Die sukses van dié plan sal egter deur Afrikaners se eie doelgerigtheid en energie bepaal word. Net soos Bart Nel destyds doelgerig ’n nuwe toekoms tegemoet gestap het.

(Bart Nel is in ‘n roman uit die tyd van die Rebellie van 1914. Johannes van Melle het Bart Nel, de Opstandeling in 1942 in Afrikaans vertaal wat onder die titel En ek is nog hy verskyn het. Die boek het in 1951 as Bart Nel sy finale beslag in Afrikaans verkry.)

Soortgelyke plasings