| |

Taakspan gaan volstoom voort om voedsel te versprei

Die taakspan wat deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Josef Silo’s-projek gestig is, het vandag meer as tien ton sitrusprodukte by 20 tehuise in die Pretoria-omgewing afgelewer, ten spyte van pogings deur die regering om die verspreiding van voedsel te sentraliseer. Solidariteit Helpende Hand het ook ’n verdere tien ton sitrus direk na Benoni gestuur vir verspreiding.

Hierdie inisiatief behels dat voedsel en noodsaaklike items aan behoeftige individue, gesinne en instansies soos onder meer kinderhuise, tehuise vir bejaardes en klinieke in gemeenskappe regoor die land versprei gaan word, veral in die huidige moeilike omstandighede waarin verskeie gemeenskappe hulself bevind.

AfriForum is verantwoordelik om in samewerking met Saai verspreiding op grondvlak vanuit die Josef Silo’s en ander instansies se afsetpunte te behartig sodat die items – wat  byvoorbeeld deur Solidariteit Helpende Hand verpak en voorberei word – so gou as moontlik by behoeftiges uitkom. Familieboere kan voedsel en ander skenkings by die naaste Helpende Hand Silo’s of ander afsetpunte aflaai en AfriForum sal verantwoordelik wees vir die mikroverspreiding van die voedsel en ander items aan behoeftiges.

Volgens Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sal die burgerregteorganisasie voortgaan met die verspreiding van voedsel aan mense in die gemeenskap wat dit nodig het. “Volgens AfriForum is daar geen regsbasis vir pogings deur die owerheid om die verspreiding van voedsel onder regeringsbeheer te sentraliseer nie. Die burgerlike samelewing het ’n rol om te speel in hierdie noodsituasie en ons sal voortgaan met die uitvoering van hierdie rol, ongeag mense wat die verspreiding van voedsel wederregtelik wil sentraliseer.”

“Saai se posisie is duidelik ten opsigte van die regulering van skenkings: ons gaan nie toelaat dat die skenkings wat boere aan ons toevertrou om aan die mees kwesbare mense te versprei, deur die regering gereguleer word nie. Daarom is Saai deel van hierdie inisiatief in samewerking met AfriForum en Solidariteit Helpende Hand,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Solidariteit Helpende Hand het reeds ons regspan opdrag gegee om die wetlikheid van hierdie regulasies te ondersoek. Ons hoor uit alle oorde dat ons mense regtig swaar trek gedurende die staat van inperking – daar is baie onsekerheid en mense verloor hoop. Mense is onseker op politieke, ekonomiese en maatskaplike vlak. Dit is nodig om in hierdie tye van nood mekaar moed in te praat en opreg dankbaarheid te toon teenoor donateurs, vrywilligers en vir alle skenkings. Die skenking vandag wys net weer dat ons saam sterker is en dat mense steeds in staat is om hoop te skep in tye van onsekerheid. Helpende Hand is elke dag opnuut dankbaar vir die samewerking en verspreidingsnetwerk tussen Helpende Hand, AfriForum, Saai en Solidariteit. Ons leuse van “Met hart, in krag, tot hoop” wat ons drie jaar voor COVID-19 geskep het, dra nou soveel meer betekenis,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand.

Die uitdeel van sitrusprodukte skakel ook in by AfriForum se immuniteit-inisiatief, om gesondheid binne gemeenskappe te bevorder.

Mense kan ook skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun.

Rekeninghouer:        Solidariteit Helpende Hand
Bank:                           FNB
Rekeningnommer:   62 331 445 503
Tak:                              Centurion (takkode: 250 655)
Verwysing:                 Korona
Swift-kode:                FIRN ZA JJ

Besoek www.helpendehand.co.za en klik op die skakel vir maatskaplike hulp om aansoek te doen vir hulp.

Foto 1: Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, en Morné Mostert, hoof van plaaslike regering saam met Gellie Geldenhuys en Attie den Houden van die Emily Hobhouse Tehuis in Capital Park.

Soortgelyke plasings