|

Tatta, boelies! Só maak AfriForum meisies touwys oor boelies en ander “tienergoggas”

Boelies, ’n swak selfbeeld en trolle op sosiale media is maar enkele van die uitdagings waarmee veral tienermeisies daagliks moet worstel. AfriForum se teenboelieveldtogspan en die blogger Bernice Schutte het egter die afgelope skoolvakansie, as deel van die Taai Meraai-vakansieprogram van Solidariteit Helpende Hand se Pretoria-Oos-streek, talle slim planne en prettige oplossings gebied vir graad 7-dogters wat dié en talle ander “tienergoggas” moet oorkom.

Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir Jeugleierskap en ’n bekende spreker oor boeliegedrag by skole oor die hele Suid-Afrika heen, benadruk dat sagte vaardighede dikwels oorgesien word in formele skoolopleiding, maar dat dit dikwels dié vaardighede is wat kinders nodig het om van die taaiste struikelblokke in hul lewe te oorkom. “Leierskapsvaardighede en vaardighede waarmee hulle uitdagings soos boelies kan oorwin, is vir AfriForum baie belangrik,” verduidelik sy. “Dit is noodsaaklik om die jeug te bemagtig sodat hulle kan opstaan vir goeie waardes en beginsels en dit uiteindelik ook eendag vir ons nageslag kan uitleef. Hulle is immers die leiers van die toekoms!”

Bräsler het by dié program verskeie Bybelse voorbeelde – soos die geestelike wapenrusting en die verhaal van koningin Ester – gebruik om die tieners te herinner aan God se daaglikse beskerming, die skoonheid van God se skepping en die wyse waarop elkeen uniek en besonders geskape is.

Volgens Schutte, skrywer en stigter van die Meisie tot Mens-projek wat fokus op die bemagtiging van jong meisies op hul ontdekkingsreis na volwassenheid, is dit belangrik dat jong meisies hul unieke gawes en talente moet ontdek, ontwikkel én omarm. Sy het ook onder meer raad gegee oor hoe om teleurstellings te hanteer. 

Die behoefte aan leierskaps- en vaardigheidsontwikkeling wat Solidariteit Helpende Hand oorspronklik in Pretoria-Noord onder seuns geïdentifiseer het, het aanleiding gegee tot die vestiging van programme wat op tieners fokus. Terugvoer van verskeie maatskaplike werkers in Pretoria het intussen die noodsaaklikheid van ’n program, pasgemaak vir jong tienermeisies, beklemtoon en tot die ontstaan van die Taai Meraai-program gelei, verduidelik Karmien Buys, Solidariteit Helpende Hand se jeugorganiseerder van die Sentraal- en Pretoria-Oos streek.

“Ons wil deur hierdie program elke meisie bemagtig met harde én sagte vaardighede waarby hulle vir die res van hul lewe kan baat,” verduidelik Buys. “Dié vaardighede is prettig en uiteenlopend. Hulle leer hulle alles van hekel tot braai!”

Besoek AfriForum se webblad (www.afriforum.co.za) vir meer inligting oor die teenboelieveldtog en laai daar die teenboeliegidse gratis af.

Soortgelyke plasings