|

Delmas Valke-buurtwag se kringtelevisie lei tot moordverdagte se arrestasie

AfriForum se Delmas Valke-buurtwag het op 25 Augustus gehelp om ’n moordverdagte in samewerking met Titen Security en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te arresteer. Dit volg nadat ’n gemerkte voertuig, wat betrokke was by ’n poging tot moord op ’n polisieoffisier in Vryheid, op een van die buurtwag se kringtelevisiestelsels opgemerk is.

Die buurtwag het onmiddellik die beeldmateriaal gesirkuleer en versoek dat sekuriteitsmaatskappye op die uitkyk vir die voertuig moet wees. ’n Lid van Titen Security het die voertuig op die R548 na Devon opgemerk. Lede van AfriForum se Delmas Valke-buurtwag, Titen Security en Devon SAPD het dit afgetrek en deursoek.

Die SAPD het die verdagte na sy woning begelei. Daar het hulle dokumente gevind wat hom met die moordpoging verbind en hom gearresteer.

“Hierdie geval wys dat goeie tegnologie, goeie verhoudinge en samewerking met ander rolspelers misdaad kan hokslaan,” sê Carel Botha, leier van AfriForum se Delmas Valke-buurtwag.

Dié buurtwag nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak. Klik hier en sluit vandag nog by AfriForum se Delmas Valke-buurtwag aan.

Soortgelyke plasings