|

Walker Drive-buurtwag trek kabeldief vas

AfriForum se Walker Drive-buurtwag het op 18 Augustus ’n vermeende kabeldief vasgetrek en aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig vir arrestasie. Dit volg nadat buurtwagpatrolleerders ’n verdagte persoon gewaar het. Na nadere ondersoek is vasgestel dat dié persoon besig was om kabels te steel. Die gereedskap en die kabel wat afgesny is, is op die toneel gevind.

“Voorvalle van kabeldiefstal en vandalisme neem al hoe meer toe veral gedurende beurtkrag. Daarom is hierdie ’n groot sukses vir AfriForum se Walker Drive-buurtwag en die hele Sherwood-gemeenskap. Ons bedank elke AfriForum- en buurtwaglid vir hulle onbaatsugtige bydrae en tyd om ons gemeenskap veilig te hou. Ons bedank ook die SAPD en private sekuriteitsmaatskappye wat gekontak is en vinnig op die toneel was om hulp te verleen,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

“Danksy die patrolleerders se vinnige optrede en omdat hulle die betrokke rolspelers gekontak het, kon die verdagte suksesvol gearresteer word. Daarom is dit belangrik dat lede van die gemeenskap by hul plaaslike AfriForum-buurtwag aansluit,” sê Hannes Oosthuizen, leier van AfriForum se Walker Drive-buurtwag.

“Kabeldiefstal lei tot enorme finansiële verliese en die vernietiging van infrastruktuur. Dit is ’n groot bron van kommer vir die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit en belastingbetalers. Misdaad kan hokgeslaan word as gemeenskappe en plaaslike owerhede saamwerk,” sluit Van der Walt af.

Klik hier en raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke.

Soortgelyke plasings