|

(Video): Solidariteit staan verguisde onnie van Schweizer-Reneke by

Die vakbond Solidariteit gaan vandeesweek nog hofstukke beteken waarin gevra word dat die onwettige skorsing van Elana Barkhuizen, ’n gr. R-onderwyseres van Laerskool Schweizer-Reneke, onmiddellik opgehef word.

Dit kom nadat ’n storm verlede week oor ’n foto op sosiale media ontketen is wat tot gevolg gehad het dat die Noordwes Onderwysdepartement én politici Barkhuizen as ’n rassis aan die wêreld voorgehou het.

Die foto van ’n groep swart leerlinge wat by ’n tafel sit, is wyd versprei en die publiek, amptenary en politici het op die populistiese wa gespring en gesuggereer dat rassisme betrokke is. Dít terwyl daar ook talle ander foto’s was wat aandui dat dié leerlinge en ander in klasse geïntegreer is.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê daar is verskeie probleme met en onwettige optrede betrokke by die wyse waarop Barkhuizen behandel is. Sy is valslik van rassisme en ander oortredings beskuldig en boonop deur Sello Lehari, LUR van onderwys in Noordwes, geskors terwyl sy nie eens in diens van die departement is nie. Sy is ’n beheerliggaam-aanstelling.

“Die lewe van ’n briljante, geliefde onderwyseres is oornag deur ’n boendoehof vernietig. Sy is verguis en haar menswaardigheid is aangetas sonder dat enigiemand na haar kant van die saak geluister het,” het Hermann gesê.

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste, het gesê die vakbond beskou die hofsaak as dringend omdat Barkhuizen se reputasie met elke dag wat verbygaan verder benadeel word. Die vakbond gaan ook ’n lastereis instel en vir ’n kostebevel teen die LUR vra. Hy het verduidelik dat die vakbond die howe nader omdat die saak op onwettige optrede gebaseer is en nie op onbillike arbeidspraktyk nie. Indien dit laasgenoemde was, sou die KVBA genader geword het.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit Navorsingsinstituut, het gesê Barkhuizen verdien ’n verskoning en die organisasie gaan help om haar menswaardigheid te herstel. “Sy is ’n briljante onderwyseres met 15 jaar ervaring wat weet hoe om haar werk te doen.”

Mulder het ook na die media gekap wat bevooroordeeld is en eensydig oor die aangeleentheid berig en rassisme daardeur aangeblaas het.

Werner Human, adjunkhoof van Solidariteit, het ook op kinders se reg tot onderrig gewys en gesê partye wat betoog het en gedreig het om die skool onregeerbaar te maak, besef nie wat al die implikasies is nie.

AfriForum verwelkom Solidariteit se besluit om Barkhuizen met regshulp by te staan nadat sy verlede Woensdag na aanvang van die 2019-skooljaar onregverdig geskors is. “AfriForum is dankbaar dat Solidariteit vandag ’n nederige, emosionele onderwyseres bygestaan het nadat die regering, politieke partye en sosiale media ’n onskuldige foto uit verband geruk en as blatante rassisme voorgehou het,” het Carien Bloem, onderwyskoördineerder gesê.

“Nie net is klein kinders deur hierdie traumatiese gebeurtenis geraak en ontwrig nie, maar ’n onskuldige onderwyseres se beeld en reputasie is ook geskend,” het Bloem bygevoeg.

AfriForum se gemeenskapveiligheidstrukture is ook tot beskikking van die skool en gemeenskap gestel om die situasie te monitor en seker te maak dat die skool, leerders en onderwysers veilig is.

Barkhuizen het vandag se mediakonferensie in Centurion bygewoon en in ’n roerende verklaring haar posisie en saak gestel. “Ek is ’n goeie onderwyser. Mense wat my ken noem my ’n goeie onderwyser. Mense wat my ken baklei om hul kinders in my klas te hê.

“Vandat ek kan onthou was my droom om klas te gee vir kindertjies. Dit is dikwels ’n ondankbare beroep, maar my betaling is glimlagte, soene en drikkies.

“My werk is nie politiek nie, maar klasgee. My beroep is liefde vir kinders, bloot omdat hulle kinders is.

“Verlede week het my wêreld verander. Ek weet nie wat die mense wat my lewe probeer verwoes wou bereik nie. My goeie naam is geskop en geslaan. Maar ek gaan my goeie naam skoonmaak. Ek gaan hierdie magtige mense aanvat en wen. Ek gaan doodseker maak dat wat met my gebeur het, nooit weer met enige ander onderwyser gaan gebeur nie.”

(Kyk die volledige verklaring hier: https://www.youtube.com/watch?v=cAP8hVNubpw&feature=youtu.be)

Soortgelyke plasings