|

Volhoubare slaggatprojek gaan van krag tot krag in Lichtenburg

AfriForum se Lichtenburg-tak het gedurende September slaggate in Lichtenburg opgevul. Daar is 13,5 ton teer gebruik om ongeveer 520 slaggate op te vul. Die areas waarop daar gefokus is, sluit in Buchananstraat (naby Laerskool Lichtenburg), Beyers Naudé-rylaan (langs die Kosterpad), Transvaalstraat (langs Hans Nel Bande) en Kerkstraat.

“Pine Pienaar, wat die projek lei, en sy span het ongelooflike goeie werk gedoen. Die tak het weereens net bewys dat hulle nie sal toekyk hoe die paaie agteruitgaan nie, maar eerder self iets daaraan sal doen. Die plaaslike munisipaliteit se gebrek aan leiding sowel as finansies en mannekrag maak instandhouding onmoontlik. AfriForum sal aanhou om die gemeenskap te dien en die land te verbeter,” sê Armand Viljoen, distriksköordineerder vir Marico.

“Die toestand van die paaie in Lichtenburg is werklik kommerwekkend. As elke inwoner nie sy of haar gedeelte van die straat onderhou nie, gaan ons binnekort net stofpaaie oor hê. Daarom is dit uiters belangrik om by ’n organisasie soos AfriForum betrokke te raak, aangesien ons saam meer kan bereik,” sê Pienaar, plaaslikeregeringsbeampte van die Lichtenburg-tak.

AfriForum se Lichtenburg-tak bedank graag Gideon du Preez van Lichcrete wat teer aangery het, asook die volgende ondernemings wat die inisiatief ’n sukses gemaak het: NWK se skenking van 12 ton teer, Hans Nel Bande se skenking van 30 sakkies teer en Tony Teixiera van Lichtenburg Spar se skenking van 30 sakkies teer.

Word vandag nog deel van AfriForum se Lichtenburg-tak SMS: “Lichtenburg” na 45344 (R1), of skakel Steyn Kearney by 082 803 3628.

Soortgelyke plasings