|

Voorbrande verhoed verwoesting in Wes-Moot

AfriForum se Wes-Moot-tak het die afgelope naweek gebrand om die inwoners van Kameeldrift-Wes, Swacina Park en Boekenhoutkloof teen die veelvuldige gevare te beskerm wat gepaardgaan met die oop velde waarlangs hulle bly. Hierdie AfriForum-tak het op 15 Junie hande gevat met die plaaslike brandbeskermingsvereniging (BBV) om voorbrande in die gebied te maak.

“Die voorbrande is daarop gemik om die omgewing te help beveilig – nie net teen misdadigers wat in die hoë gras skuil nie, maar ook teen veldbrande wat die omliggende huise en erwe ernstig kan beskadig,” sê Willie Oosthuizen, operasionele leier vir AfriForum se Wes-Moot-buurtwag.

Vrywilligers verbonde aan die Wes-Moot-tak, die BBV, Uberwachung All Secure-veiligheidsdienste en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het aan die voorbrande deelgeneem. Die AfriForum-tak het individue met brandslaners op strategiese punte ontplooi om die brande te help beheer. Drie waterkarre is ook beskikbaar gestel om hierdie lede by te staan.

Benewens die suksesvolle voorbrande wat gemaak is, het AfriForum se Wes-Moot-tak ook van die geleentheid gebruik gemaak om saam met die BBV ’n brandbestrydingsinligtingsessie aan die gemeenskap aan te bied. Die 40 individue wat die sessie bygewoon het, het geleer hoe om brandpaaie te maak om grootskaalse verwoesting te vermy, die belangrikheid van voorbrande maak en die wetgewing rondom die brand en bestryding van vullishope.

“Hierdie soort gemeenskapsbetrokkenheid is presies wat AfriForum deur sy verskeie inisiatiewe wil bevorder. Gemeenskappe moet saamwerk om ’n aktiewe rol te speel in die beskerming van hul woonbuurte,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Raak vandag nog by AfriForum se Wes-Moot tak betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings