AfriForum veroordeel regering se onderduimse poging om sensuurwet in te stel

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê die regering se pogings om ’n nuwe sensuurwet deur te voer is onaanvaarbaar. In ’n brief aan die Rolprent- en Publikasieraad (FBP) voer AfriForum se regspan aan dat die konsep klassifikasieriglyne vir die klassifisering van films, speletjies en sekere publikasies te veel magte aan die FPB verleen wat teenstrydig is met die Wet op Films en Publikasies (Wet 65 van 1996). Die konsepriglyne kan nie meer magte aan die FPB verleen as wat die wet self doen nie. Dit is duidelik onlogies, onwettig en onreëlmatig.

Tweedens sal die konsepriglyne die FPB oorlaai met bykomende regulering en toesighouer verantwoordelikhede. Kragtens die konsepriglyne sal alle wettige inhoud wat voldoen aan die kriteria van ’n film, speletjie, publikasie of aanlyninhoud soos omskryf in die wet onder die jurisdiksie van die FBP ingesluit word. Dit sal selfooninhoud, video en ander inhoud wat op die internet gepubliseer word, insluit. Die organisasie het ook geëis dat die kommentaartydperk vir die konsepwysigings verleng word.

Volgens die organisasie het die Staatsdrukkery ook op 15 Januarie 2022 ’n hardeware-onderbreking by hul webbediener ondervind. Dit blyk dat hierdie onderbreking die infrastruktuurkomponent van die Staatsdrukkery se webbediener beïnvloed het.

As gevolg van die bogenoemde voorval was die Staatskoerant wat die konsepriglyne gepubliseer het, nie geredelik beskikbaar. Gevolglik het die publiek en burgerlike organisasies eers bewus geword van die kommentaartydperk ná die media later in Februarie 2022 oor die konsepriglyne berig het.

“Dit sal onmoontlik wees om hierdie wet te implementeer. Enige inhoudskepper, met ander woorde enige iemand wat ’n video of foto op sosiale media wil plaas of wil deel, moet nou by die Film- en Publikasieraad geregistreer wees en hulle inhoud moet goedgekeur word voor dit geplaas mag word. Dit is ook duidelik dat hierdie wet deur die regering as ’n wapen gebruik kan word om opposisiepartye, nieregeringsorganisasies en hul kritici se sosialemediainhoud te teiken aangesien dit staatsamptenare se verantwoordelikheid gaan wees om hierdie inhoud goed te keur,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder.

AfriForum het versoek dat die tydperk vir kommentaar verleng word tot einde Maart.

Soortgelyke plasings