|

32 ton teer sorg vir minder slaggate in Vanderbijlpark

AfriForum se Vanderbijlpark-tak maak sedert die begin van die jaar seker dat die slaggat-gevulde paaie van dié stad een na die ander herstel word. Die tak het vroeër vanjaar hande gevat met die gemeenskap van Flora Gardens en het sedertdien hul bygestaan met hul pogings om dié woongebied se paaie op te knap. AfriForum en die inwoners van die woonbuurt het tot op hede 1 268 sakke, oftewel 32 ton teer gebruik om slaggate op te vul.

“Dit is verblydend om te sien dat gemeenskappe verantwoordelikheid neem van hul woonbuurte. AfriForum probeer om deurlopend gemeenskappe soos dié te ondersteun deur volhoubare selfdoen-aksies van stapel te stuur,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wesrand.

Die Vanderbijlpark-tak het sedert Januarie meer as 20 hektaar gras in parke en velde in die stad gesny én altesaam 382 vullissakke gevul en weggery. Dié bedrywighede vorm deel van AfriForum se verbintenis om Vanderbijlpark te verbeter en te verfraai.

Blignault sê die vordering wat die afgelope paar maande gemaak is, sou nie moontlik gewees het sonder die Vanderbijlpark-tak se volhoubaarheidspan nie. “Hulle deursettingsvermoë en entoesiasme maak van hulle ’n krag waarmee rekening gehou moet word en hoe meer mense  deel word van die span, hoe groter verskil kan die tak in Vanderbijlpark maak. Selfdoen is verseker beter as niksdoen.”

Raak vandag nog by AfriForum se Vanderbijlpark-tak betrokke. Besoek https://www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings