| |

Vullisterreinoudit: Vrystaat

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vanjaar 161 vullisterreine landwyd geoudit as deel van hulle nasionale projek om die toestand van vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal.

Slegs 2 van die 27 vullisterreine wat in die Vrystaat geoudit is, het aan die nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Só vergelyk die vullisterreine in die Vrystaat

Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, is die meeste vullisterreine in die Vrystaat in ’n haglike toestand. “Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die munisipaliteite se onbevoegdheid en onwilligheid om aan vereistes te voldoen. Hulle word ook deur geen owerheid tot verantwoording geroep nie.”

“Die algemeenste probleem wat AfriForum-takke in Bloemfontein, Dealesville, Boshof en Zastron tydens hierdie oudit opgemerk het, is dat die munisipaliteite nie omgee hoe die vullisterreine lyk nie en dat hulle nie kans sien om ’n probleem wat reeds hande uitgeruk het reg te ruk nie. Hulle het ook nie die nodige kundigheid nie. Dit is ’n groot bron van kommer aangesien die munisipale amptenare nie tot verantwoording geroep word nie,” sê Groenewald.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is duidelik dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

Hierdie situasie kan daaraan toegeskryf word dat die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) deur drie verskillende regeringsfere beheer word. Die nasionale departement het slegs bevoegdheid om op nasionale vlak wette, beleide, norme en standaarde vas te stel, maar hulle het geen bevoegdheid op provinsiale of munisipale vlak nie. Die provinsie rapporteer aan die provinsiale LUR, nie aan die minister nie. Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) en die DBVO kommunikeer ook nie met mekaar nie en dit bring dus nog ʼn uitdaging mee.

Klik hier en lees die volledige verslag.

Soortgelyke plasings