|

Wat kan ek doen as ek deur kuberboelies afgeknou word?

Deur: Leandie Bräsler

DEFINISIES  

Kuberafknouery word gedefinieer as optrede waardeur iemand (die slagoffer) geteister, verneder, gedreig of in ’n verleentheid gestel word deur elektroniese metodes, soos blitsboodskappe, e-posse of sosiale media. Selfone, tablette en die internet word deur kinders gebruik om vir mekaar lelike boodskappe te stuur, om gemene kommentaar op iemand se foto’s te lewer, om haatgroepe te stig en om foto’s van die persoon sonder hulle toestemming op te laai wat hulle ontsteld en skaam kan laat voel.

RAAD OOR HOE HIERDIE TIPE VOORVALLE HANTEER KAN WORD

  1. Vertel iemand – Soos met enige vorm van afknouery is dit belangrik dat jy nie in stilte swaarkry nie en dat jy iemand dadelik daarvan moet vertel. Dit lyk dalk moeilik om dit te doen, maar maak seker dat jy vir iemand daarvan vertel wat jy regtig vertrou, soos ’n volwassene, byvoorbeeld ’n onderwyser of jou ouers. Hulle sal jou dan help om te besluit wat om te doen.
  2. Rapporteer die persoon of groep – Kuberafknouery is nooit aanvaarbaar nie en jy sal die inhoud (soos foto’s, boodskappe, groepe, ens.) moet rapporteer aan iemand wat jy vertrou sowel as aan die sosialemediawebwerf. Alle sosiale netwerke soos Facebook, Twitter en Instagram het knoppies waar jy misbruik kan aanmeld. Speletjies wat jy op Xbox en dies meer speel, het ook advies op hulle webwerwe. Rapportering kan gewoonlik anoniem gedoen word sodat die persoon wat die inhoud gerapporteer het, nie bekend gemaak sal word nie. Dus sal jou boelie nie weet dat dit jy is wat hom/haar gerapporteer het nie.
  3. Blokkeer die persoon of groep – Die meeste sosialemediawebwerwe sal jou die opsie gee om iemand te blokkeer en om die persoon wat jou aanlyn afknou, te rapporteer. Wanneer jy iemand blokkeer, beteken dit gewoonlik dat daardie persoon of groep nie meer met jou kontak sal kan maak nie en ook nie meer enige van jou persoonlike inhoud sal kan sien nie.
  4. Bewaar die bewyse – Dit is baie belangrik dat jy die bewyse van kuberafknouery bewaar of ’n kopie daarvan hou, soos boodskappe of gesprekke wat jy ontvang het, sodat jy bewyse van kuberafknouery het en dit vir ’n relevante persoon kan wys.
  5. Moenie antwoord of ’n boodskap terugstuur nie – Dit kan baie aanloklik wees om boodskappe vir die kuberboelie te stuur, maar dit is belangrik om te onthou dat jy nie self ook ’n kuberboelie moet word nie. Jy kan die boelie hanteer deur die boodskap of foto’s te blokkeer en te rapporteer. Dit is soms baie moeilik om nie iets terug te stuur nie, maar dit is beter om self nie so laag soos die boelie te daal nie. Dit is net beter om nie daarop te reageer nie. Die persone wat jou afknou, wil gewoonlik ’n reaksie uitlok, en as jy daarop reageer, sal dit die situasie net erger maak.
  6. Bly positief – Alhoewel dit dalk voel of jy glad nie beheer het oor die situasie nie, kan jy beheer oor die situasie kry. Maak seker dat jy die stappe hierbo volg en gesels met mense binne en buite skoolverband wat jy vertrou. Hierdie persone gee vir jou om en sal saam met jou werk en jou help om hierdie kuberafknouery hok te slaan. Bly positief, want jy is nie alleen nie en die situasie sal beter raak.

Topwenke om veilig te wees op die internet

  1. Hanteer jou wagwoord soos jou tandeborsel – Moenie dit deel nie! Verander jou wagwoord gereeld en moenie dieselfde wagwoord vir al jou rekeninge soos Facebook, Twitter, Instagram gebruik nie. Hierdie webtuiste vertel jou hoe lank dit iemand neem om jou wagwoord te kraak: https://howsecureismypassword.net/.
  2. Dink mooi oor wat jy publiseer – Moet niks op jou rekeninge of profiele deel wat jy nie wil hê jou ouma moet sien nie. Jy moet altyd twee keer dink wat jy op die internet deel en ook met wie jy dit deel. Onthou, moontlike toekomstige werkgewers en onderwysers kan uitvind wat jy op die internet of aanlyn met ander deel.
  3. Dink mooi voordat jy iets deel – Onthou dat wanneer jy iemand as jou vriend op boodskappe of sosiale netwerke aanvaar, hulle toegang het tot sekere van die inligting en foto’s wat jy gedeel het. Maak dus seker dat hulle tevrede sal wees om te sien wat jy gedeel het en dat jy hulle ken en vertrou. Kyk gerus na die privaatheidstellings, waar jy kan kies watter persone watter inligting sien, asook wat jy gedeel het. Jy kan byvoorbeeld jou profiel of data só stel dat dit privaat is of dat net sekere mense sekere inligting van jou kan bekom.
  4. Google jou naam – Al erken jy dit nie, het ons almal dit al gedoen. Om jou sosialemediagebruikersnaam en jou volle naam op Google in te tik, is regtig ’n goeie manier om jou privaatheidstellings te toets. So kan jy ook sien en toets wat vreemdelinge op die internet, moontlike toekomstige werkgewers of universiteitsowerhede op jou profiele kan sien en nie kan sien nie.

HOE KAN EK MY KIND ONDERSTEUN WAT AFGEKNOU WORD?

  1. Stel jou kind gerus – Stel jou kind gerus dat hy/sy die regte ding gedoen het deur sy/haar stem te laat hoor. Kinders se verbeelding is geneig om op hol te gaan en dan vorm hulle hul eie duidelike ergstegevalscenario’s, wat kan veroorsaak dat hulle te bang is om daaroor te praat. Die feit dat hulle na jou toe kom en met jou daaroor gesels is, is klaar ’n groot stap vir hulle.
  2. Luister – Luister na wat jou kind te sê het sonder om enige oordeel te vel. Dit is belangrik dat hy/sy gemaklik voel met jou optrede en dat hy/sy ’n sekere gevoel van mag en beheer het oor die situasie.
  3. Laat jou kind steeds toe om aanlyn te verkeer, self al vind afknouery oor die internet plaas – Kinders en jongmense maak op ’n daaglikse basis van tegnologie gebruik, soos wanneer hulle met vriende kommunikeer en ook om te leer en dinge uit te vind. As jy jou kind verbied om aanlyn te verkeer, kan dit hom/haar ontmoedig en dan sal hy/sy nie weer sommer in die toekoms daaroor praat nie en dit kan ook veroorsaak dat hy/sy enige eksterne ondersteuning sal vermy. Moedig hom/haar liewer aan om na jou toe te kom as hy/sy iets sien waarmee hy/sy ongemaklik voel, dan kan jy saam met jou kind daardeur gaan.

Afknouery kan veroorsaak dat jou kind skaam en bang voel en hy/sy sal ook meestal bekommerd wees oor hoe jy as ouer daarop reageer wanneer hy/sy jou daarvan vertel. Probeer om kalm te bly, stel jou kind gerus en stel vrae oor hoe jou kind wil hê jy hom/haar moet help.

Skakel met jou kind se skool om seker te maak dat hulle van die voorval bewus is. Gaan saam met jou kind deur die bostaande inligting en vra hom/haar wat hy/sy graag sal wil hê jy moet doen.

WAT MOET ’N ONDERWYSER DOEN AS ’N KIND KLA DAT HY/SY ’N SLAGOFFER VAN KUBERAFKNOUERY IS?

  1. Bedank die leerder dat hy/sy met jou oor die situasie kom gesels het en ook omdat hy/sy dapper en moedig genoeg is om sy/haar stem te laat hoor oor afknouery.
  2. Vra vir die leerder om vir jou die inhoud aanlyn te wys en volg stappe 1 tot 6 hierbo as hy/sy dit nie reeds gedoen het nie.
  3. Kuberafknouery kan ’n persoon skaam en vernederd laat voel en hy/sy kan dalk voel dat hy/sy geen beheer oor die situasie het nie. Vra die leerder wat die volgende stap moet wees wat hy/sy wil doen. Dit is belangrik dat die leerder seggenskap het in hierdie proses, omdat hy/sy miskien nie dadelik wil hê dat die onderwyser met die boelie moet praat nie.
  4. Hou die leerder se ouers op hoogte van wat gebeur sodat hulle by die huis ook ’n ogie oor hom/haar kan hou.
  5. Maak seker dat jy die skool se teenboelieprosedures volg en hou boek van wat gebeur het.

Soortgelyke plasings