|

Waterberaad: Selfdoen is die oplossing vir SA se dreigende waterkrisis

’n Volslae waterkrisis in Suid-Afrika, wat die afgelope paar jaar in wording is, skets ’n onheilspellende prentjie oor hoe die toekoms vir dié waterskaarsland en sy inwoners gaan lyk. Min tot geen toegang tot skoon drinkwater beteken dat gesondheidsorg nóg vinniger agteruit sal gaan. Waterdraende siektes sal hoogty vier en die bestaande sosio-ekonomiese ongelykhede in dorpe en stede gaan vererger. Dít kan Suid-Afrika se realiteit word indien daar nie dringend en beslissend opgetree word om te verhoed dat só ’n scenario werklikheid word nie. AfriForum het vandag tydens sy waterberaad verduidelik presies hoe hy beplan om watersekerheid oor die land heen te verseker.

Selfdoen. Dít is in kort wat die burgerregteorganisasie se nasionale waterstrategie voorstel om die sistemiese mislukkings en agteruitgaan van waterverskaffing op plaaslike regeringsvlak reg te stel, en terselfdertyd broodnodige verligting te bied aan gemeenskappe wat gebuk gaan onder die gevolge van die dreigende waterkrisis. Die strategie fokus op praktiese oplossings om die druk op die waterstelsel te verlig en om gemeenskappe meer selfstandig te maak in die hantering van die waterkrisis.

AfriForum het reeds ’n projek van stapel gestuur om private modulêre water- en rioolsuiweringswerke te bou om twee gemeenskappe van hul onderskeie munisipaliteite onafhanklik te maak. Dit verg nie net minder mannekrag om dié soort water- en rioolsuiweringswerke te bedryf nie, maar kan ook ’n doeltreffende wateroplossing vir gemeenskappe wees. AfriForum het ook proaktief opgetree deur noodwaterpunte regoor Suid-Afrika op te rig. Dié noodwaterpunte staan reeds op 90 en is vir enigiemand toeganklik.

Hiermee saam beywer AfriForum om die kennistekorte in die bestuur van water- en rioolsuiweringsaanlegte te vul deur kundiges op te lei wat die nodige vaardighede het om dié aanlegte reg te bedryf. Die burgerregteorganisasie het ’n geakkrediteerde opleidingskursus in samewerking met Water Group, Pionier Dienstemaatskappy en die Water Institute of Southern Africa (WISA) ontwikkel. AfriForum het reeds 15 mense in dié kursus opgelei en beplan om vanjaar nóg 15 mense die geleentheid te gee om die opleiding te voltooi. Dié individue is teen die einde van die opleiding ten volle in staat om aanlegte te bedryf. Die volgende stap is egter om hande te vat met munisipaliteite sodat leemtes in openbare water- en rioolsuiweringswerke die hoof gebied kan word.

Vooraanstaande kenners in waterbestuur en staatsamptenare van die Departement van Water en Sanitasie het ook tydens die beraad die land se waterkrisis ontleed en op die lesse gewys wat Kaapstad geleer het ná sy sogenaamde “Dag Zero”. Daar is ook aandag gegee aan die wetlike raamwerk vir waterverskaffing en die ruimte vir gemeenskapsbetrokkenheid hierby. Uit die beraad het dit duidelik geword dat samewerking tussen die openbare en private sektor al manier is hoe daar verseker kan word dat alle Suid-Afrikaners nou en in die toekoms toegang tot skoon water het.

“Die beraad is daarop gemik om burgers bewus te maak van die krisis wat ons in die gesig staar, en kenners te mobiliseer om daadwerklik dié krisis te keer,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake. “Ons wil saam met die regering werk om oplossings te bied vir hierdie krisis en is bereid om als in die stryd te werp om hierdie planne te laat slaag.”

AfriForum se nuwe dokumentêr, Running Dry – A Nation on the Brink, wat vir die eerste keer by die beraad vertoon is, illustreer die huidige stand van sake en beklemtoon die dringendheid om teen hierdie krisis op te tree. Die dokumentêr is reeds op YouTube en AfriForumTV beskikbaar.

AfriForum stel later vanjaar ’n verslag bekend waarin die gedetailleerde pad vorentoe uiteengesit word. Besoek http://www.waterkrisis.co.za/ vir meer inligting oor die dreigende waterkrisis.

Soortgelyke plasings